Twee vas na hul agterstewes by tempel wys

Twee Amerikaners is in Thailand in hegtenis geneem na hulle ‘n foto op sosiale media geplaas het waar hulle hul agterstewes by ʼn bekende Boeddhiste-tempel ontbloot het.

Krisana Pattanacharoen, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die mans is Dinsdagaand op ‘n lughawe in Bangkok in hegtenis geneem en staar aanklagte van openbare ontbloting in die gesig.

Die twee mans het ʼn Instagram-rekening genaamd “Traveling Butts” onderhou, maar die rekening is intussen gesluit. Die rekening het meestal foto’s bevat van waar die twee hul agterstewes ontbloot by verskillende toeristebestemmings reg oor die wêreld. Die rekening het sowat 14 000 volgelinge gehad.

‘n Polisieondersoek is van stapel gestuur na die foto wat by die Wat Arun-tempel geneem is nadat dit wyd op sosiale media versprei is.

Die mans, wat slegs deur die polisie op hul voorname geïdentifiseer is, moes ‘n boete van 5 000 baht (sowat R2 100) betaal by ‘n polisiestasie waarna hulle aan die immigrasie-owerhede oorhandig is.

Die polisie oorweeg intussen ook om die mans aan te kla onder wetgewing rakende rekenaarmisdade, aangesien die foto’s aanlyn versprei is. Dié omstrede wet word dikwels gebruik teen aktiviste om vryheid van spraak aanlyn te bekamp of teen diegene wat daarvan beskuldig word dat hulle die Thaise monargie beledig het. Skuldiges kan tot vyf jaar tronkstraf gevonnis word.

Daar word van besoekers aan tempels in Thailand verwag om beskeie aan te trek en by sekere bestemmings word besoekers ook nie toegelaat met kortbroeke of hemde wat nie die skouers bedek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.