Twee vas wat sekuriteit wou toets

Yon Pomrenze en Connor Fieldman Foto: Port Authority-polisie

Yon Pomrenze en Connor Fieldman Foto: Port Authority-polisie

Twee CNN-joernaliste wat die veiligheidsmaatreëls by die nuwe Wêreldhandelsentrum in New York wou toets, is in hegtenis geneem na ‘n paar onsuksesvolle pogings.

Yon Pomrenze (35) en die kameraman Connor Fieldman Boals (26) het twee keer onsuksesvol probeer inkom, maar toe hulle ‘n derde metode probeer, is die polisie laat kom. Die twee joernaliste wou by die Wêreldhandelsentrum inkom om te berig oor die laksheid van sekureit by die gebou.

Hulle het eers deur die hoofhek van die gebou, wat grootliks nog ‘n konstruksieperseel is, probeer loop. Daarna het Boals twee keer oor ‘n muur probeer klim. Die twee is met die derde poging aangekeer toe hulle ‘n elektriese hek wou oopforseer.

Vier mans, wat in September verlede jaar met valskerms van die gebou afgespring het, is Maandag aangekeer. ‘n 16-jarige seun met ‘n kamera is ‘n paar dae gelede in hegtenis geneem nadat hy met die steierwerk langs die gebou opgeklim en toe met die hysbak na die 104de verdieping gery het.

“As ‘n 16-jarige kon inkom, dan kan ons ook,” het die twee CNN-joernaliste glo gesê.

“Die 16-jarige het egter 04:00 die oggend by die gebou ingebreek, en nie helder oordag nie,” het Joseph Pentangelo, woordvoerder vir die Port Authority-polisie, gesê.

Barbara Levin, ‘n woordvoerder van CNN, het gesê Pomrenze en Boals was besig met ‘n berig, maar hulle is nooit aangesê om by die perseel in te sluip nie.

Die nuwe Wêreldhandelsentrum is gebou op dieselfde perseel waar die vorige gebou gestaan het wat op 11 September 2011 deur Al-Kaïda-militante vernietig is. Die sentrum sal na verwagting later vanjaar sy deure oopmaak.

Bronne: Reuters, Trouw, CNN, NY Daily News, Huffington Post

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.