
Die kaart van 24 Februarie wys lande met bevestigde gevalle van Covid-19. Algerië word nog nie op dié kaart aangedui nie.
Algerië in Noord-Afrika het sy eerste geval van die dodelike koronavirus, oftewel Covid-19, bevestig.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Afrika-kantoor het ʼn Italianer wat op 17 Februarie in die land aangekom het, positief vir die virus getoets.
Die eerste bevestigde geval van Covid-19 is vroeër die maand in Egipte aangemeld. Algerië is een van die 47 lande in die WGO se Afrika-streek.
“Die vensterperiode vir die kontinent om vir die koronavirus voor te berei, is besig om verby te gaan,” het dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streeksdirekteur vir Afrika, gesê. “Alle lande moet hul paraatheidsmaatreëls opskerp.”
Algerië is een van 13 lande wat deur die WGO geïdentifiseer is as ʼn topprioriteit vir gereedheidsmaatreëls weens die direkte verbintenis met of hoë reisgetalle na China. Die WGO maak gereed om ʼn span kenners na Algerië te stuur om die gesondheidsowerhede daar by te staan.
Covid-19 het reeds meer as 2 700 lewens geëis. Meer as 80 000 bevestigde gevalle is reeds aangemeld. Die virus is reeds in 33 lande buite China aangemeld. Afghanistan, Bahrain, Irak en Oman is van die jongste lande om gevalle van die virus aan te meld.
Tedros Adhanom, direkteur-generaal van die WGO, het vroeër die week gesê die WGO en China se gesamentlike sending het sy besoek aan China afgehandel en ʼn verslag bekend gemaak. Die span het verskeie provinsies in China, waaronder Wuhan waar die uitbreking ontstaan het, besoek.
Volgens Adhanom is bevind dat die epidemie tussen 23 Januarie en 2 Februarie ʼn piek en ʼn plato bereik het en dat dit sedertdien geleidelik daal.
“Hulle het bevind dat daar geen wesenlike verandering in die DNS van die virus is nie. Die sterftesyfer is tussen 2% en 4% in Wuhan en 0,7% buite Wuhan.”
Adhanom het gesê mense met ʼn matige vorm van die virus se hersteltyd is sowat twee weke terwyl mense wat ʼn erge of kritieke vorm van die virus het tussen drie en ses weke vat om te herstel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Afrika is glad nie voorberei vir hierdie virus nie, al se hulle wat en die sterf persentasie in Afrika gaan aansienlik hoer wees as in die res van die wereld want gesondheidsorg is beroerd en daar is baie mense in Afrika met ander onderliggende siektes
Ja Michael hier stem ek 100% saam met jou.
Het hulle al die ware oorsprong van die virus kon vasstel?
Laat mens dink aan Dan Brown se Inferno.
Hoekom laat die owerhede toe dat mense nogsteeds reis na en van die lande van oorsprong? Doen ‘n total shut down todat die virus onder beheer gebring is.