Tweede oorlewende sterf ná skip sink

Die eerste oorlewende, ’n Filippynse bemanningslid, Edvardo Sareno (45), toe hy Woensdagaand gered is (Foto: AP)

Japanse reddingswerkers het Vrydag ’n tweede oorlewende opgespoor nadat ’n skip met 42 bemanningslede glo in gure weer Donderdag langs die kus gesink het. Die skip het sowat 5 800 beeste vervoer en van dié beeste se karkasse is ook intussen gevind.

Die man is bewusteloos in die water aangetref, sowat 120 km noord van waar die skip vroeg Woensdag ’n noodoproep uitgestuur het.

Takahiro Yamada, ’n woordvoerder van die Japanse kuswag, het gesê die man, wie se nasionaliteit nog nie bekend is nie, is na ’n hospitaal geneem, maar later dood verklaar. Hy het gesê die reddingswerkers het ook tientalle beeskarkasse op die water sien dryf in die omtrek van waar die man gered is.

“Ons is nog nie bewus van beeskarkasse wat aan die Japanse kus uitgespoel het nie,” het Yamada gesê.

Reddingswerkers in vier reddingsbote, ’n reddingsvliegtuig asook duikers het hulle Vrydag by die soektog aangesluit. Volgens ’n verklaring van die kuswag is ’n bondeltjie oranje tou en ’n reddingsbaadjie met die skip se naam ook gevind.

Die eerste oorlewende, ’n Filippynse bemanningslid, Edvardo Sareno (45), is Woensdag laataand ongedeerd deur reddingswerkers gered. Maroela Media het vroeër berig Sareno is uit die see gered nadat ’n Japanse marine-toesigvliegtuig hom in ’n reddingsbaadjie in die water gewaar het. Hy het sy arms in die lug geswaai om die vliegtuig se aandag te trek.

‘n Karkas van ‘n bees dryf op die water (Foto: AP)

Hy het aan die reddingswerkers gesê die skip het omgeslaan voordat dit gesink het. Toe die skip besig was om te sink, het hy sy reddingsbaadjie aangetrek en in die see gespring. Hy het egter tot dusver nog geen ander bemanningslede gesien nie.

Die skip het tydens stormagtige weer gesink wat deur die tifoon Maysak veroorsaak is. Volgens die skeepsopsporingswebwerf MarineTraffic.com het die skip se outomatiese opsporingstoestel gewys dat die skip in ’n sterk wind van 58 knope (107 km/h) gevaar het toe dit gesink het.

’n Tweede tifoon gaan Suid-Japan oor die naweek tref.

Sareno het reddingswerkers bedank nadat hulle hom uit die water gered het. Hulle het komberse om hom gedraai en vir hom ’n bottel water gegee. Hy het die reddingswerkers gevra of daar nog oorlewendes is en bygevoeg dat hy baie gelukkig is om te leef.

Die skip se ander bemanningslede sluit in 38 Filippyne, twee van Nieu-Seeland en nog twee van Australië.

Dié 11 947 ton-skip word besit deur Gulf Navigation Holding in die Verenigde Arabiese Emirate. Die skip het middel Augustus die hawe van Napier in die noordooste van Nieu-Seeland verlaat en was onderweg na die hawe van Tangshan aan die oostelike kus van China.

Gulf Navigation Holding het in ’n verklaring sy medelye aan die oorledenes se families en vriende betuig. “Ons bid en glo dat daar nog oorlewendes is,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miskruier ·

Hier is nou die regte ammunisie vir die DBV. Verkoop vleis nie lewendige diere nie!!

Rudolph ·

Ek sukkel om my gevoelens oor die dood van die beeste wat op die skip was uit te sorteer. Gegewe die beeste was oppad om geslag te word. Wat is erger? Verdrink in die see in ‘n oomblik van vryheid of staan in ‘n kopklamp terwyl iemand jou slagare afsny o en jou hart jou bloed voor jou oë uitpomp of word geskiet met ‘n boutgeweer. Vir die weeerlose, onskuldige dier maak dit min verskil. Persoonlik sou ek eerder verdrink. Die feit is daar is nie ‘n ‘beter manier’ om ‘n onreg te pleeg nie. Maak nie saak hoe jy dit doen nie dit verander nie die onreg nie

Stofdonkie ·

Jy sê die seker nie terwyl jy smul aan ‘n stuk biltong, steak of beefburger nie?

Onnie ·

Ek is lief vir my vleisie, maar ek wil nie hê enige dier moet ly, of bang wees nie. Dit maak my hartseer, al hou ek van vleis.

Onnie ·

Dis baie hartseer. Veral die arme beeste wat nie n kans gestaan het nie. Dit moes verskriklik vir hulle gewees het. Shame.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.