Tweede sikloon tref Indië

Sikloon Yaas tref Digma in die Baai van Bengale. (Foto: Dibyangshu SARKAR / AFP)

Meer as 1,2 miljoen mense word gedwing om skuiling te soek nadat Indië Woensdag deur die tweede sikloon in net ʼn paar weke getref is.

Sikloon Tauktae het verlede week die lewe van minstens 155 mense in Wes-Indië geëis. Die oostelike deelstate Wes-Bengale en Odisha gaan nou gebuk onder sikloon Yaas.

“Ons ervaar sedert gisteraand swaar reën en sterk wind,” het Bibhu Prasad Panda, ʼn inwoner van die distrik Balasore, gesê. “Verskeie bome is ontwortel. Die sikloon het ook veroorsaak dat oorhoofse kragkabels gebreek het.”

Die plaaslike owerhede het intussen bekend gemaak dat twee mense doodgeskok is toe ’n tornado die sikloon in die Hooghly-distrik in Wes-Bengale voorafgegaan het.

Die internasionale lughawe in Kolkata, hoofstad van Wes-Bengale, het Woensdag besluit om te sluit. Die lughawe in die hoofstad van Odisha, Bhubaneswar, het dié voorbeeld gevolg.

“Elke lewe is kosbaar,” het Naveen Patnaik, hoofminister van Odisha, gesê terwyl hy ʼn beroep op mense gedoen het om nie “paniekerig te raak” nie en weg van die kus af te beweeg.

ʼn Rekord van 4 800 nooddienswerkers is in dié stadium in Wes-Bengale en Odisha ontplooi om mense in nood by te staan.

Albei Indiese state steier intussen steeds onder die dodelike vlaag Covid-19-gevalle wat reeds die afgelope ses weke die lewe van meer as 120 000 mense regoor Indië geëis het.

“Hierdie sikloon veroorsaak dubbele probleme vir miljoene mense in Indië aangesien daar geen blaaskans van Covid-19 is nie,” sê Udaya Regmi, verbonde aan die Internasionale Rooikruis.

Die minister van Wes-Bengale, Bankim Chandra Hazra, het op sy beurt aan AFP gesê sikloon Yaas is ʼn “verskriklike slag” vir baie mense in distrikte aan die kus wie se families deur Covid-19 geteister word.

Volgens Hazra is dit ’n groot uitdaging om in dié stadium sosiale afstand in noodskuilings te handhaaf.

Sommige inentingsentrums in bedreigde distrikte moes reeds hul bedrywighede weens die storm opskort en ʼn spesiale operasie is van stapel gestuur om die verskaffing van suurstof en medisyne aan hospitale te verseker.

Maroela Media het vroeër berig wetenskaplikes meen siklone in Indië kom al hoe meer gereeld en sterker voor namate klimaatsverandering tot warmer seetemperature lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Duck ·

Ai, as dit nie die Covid is wat Indiè verpletter nie is dit die sikloon, R-U-N

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.