Tweeduisend jaar oue tonnelboom val om

Foto: Michael Brown via AP

Foto: Michael Brown via AP

Die beroemde “tonnelboom” aan die Kaliforniese kus, ʼn kolossale Sequoia-boom wat na raming sowat 2 000 jaar oud was, het Dinsdag in ʼn storm omgewaai.

Dié boom, wat sowat 30 meter hoog was, het ʼn mensgemaakte ‘tonnel’ in sy stam gehad en is al sedert 1880 ʼn toeriste-aantreklikheid. Aanvanklik kon perdekarre en later ook motors, daardeur ry.

Die laaste aantal jare is die boom egter bewaar nadat hy skeef begin hang het en mense kon slegs te voet deur die tonnel loop.

Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli

Die boom is ʼn sequoia, maar is meer algemeen bekend as die kusmammoetboom. Die bome is die hoogste boomsoort ter wêreld en die tonnelboom was dertig meter hoog. Die bome kan ʼn deursnee van agt meter haal.

Joyce Brown (65), ʼn afgetrede onderwyser van San Fransisco in die VSA, het aan Associated Press gesê sy was 12 toe sy die eerste keer met dié boom kennis gemaak het.

“Dis asof iemand oorlede is. Dit is ongelooflik hartseer en ʼn groot verlies – en sommer net so vinnig ook.”

Vier generasies van haar familie het dié boom dikwels tydens uitstappies besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johan Spangenberg ·

Daar is darm nog so boom naby Mount Meru in Arusha Nasionale Park in Tanzanië. Nie ver van Mount Kilimanjaro. Hy is ook +- so oud en groot.

c ·

Goeie nuus dat daar DAREM nog so ‘n boom is. As die mense nie ‘n tonnel deur die stam gemaak het nie het dit dalk staande gebly in die storm.

Johan II ·

Interresant, ek wonder watter arrogante swaap het n tonnel deur dit gemaak.

Paul ·

Die boom het in die 1880s reeds ʼn gat onderin gehad, tesame met ʼn “skoorsteen” can bo tot onder, as gevolg van weerligskade. Die tonnel is eenvoudig gemaak deur die bestaande, natuurlike gat netjies vierkantig te maak.

Die berig sê dit was ʼn sequoia of “kusmammoetboom” (g’n mens gebruik daardie naam nie!), maar dis eintlik nie korrek nie. Dit was ʼn “giant sequoia” of “giant redwood”, wat in die genus Sequoiadendron is en nie die genus Sequoia nie. Die enigste spesie in die genus Sequoia is die “coastal redwood”, wat wel die hoogste boom is, op sowat 115 meter. Hierdie tonnelboom was nie ʼn “coastal redwood” nie. Die “giant sequoia” bereik slegs sowat 85 meter in uitsonderlike gevalle.
Daar is dikwels verwarring, aangesien Amerikaners die Sequoiadendron in die volksmond ʼn “sequoia” noem, en die werklike Sequoia noem hulle net ʼn “redwood”.

Herman Toerien ·

Dankie vir die interessante agtergrond Paul. Jy is reg oor die Afrikaanse Kusmammoetboom – op Google kry ek nie eens my bron (Trouw) nie, net Maroela se verwysing daarna. Die Engelse weergawe het darem byna ‘n kwartmijoen trefslae.
Daar is nou argeoloë wat glo dat ‘n Amerikaanse Rooihuidstam voor Columbus kontak moes gehad het met Polinisiërs, oa omdat hulle planke vir die maak van kano’s gebruik het. Van die Hawaiise stamme het weer vaartuie gebruik wat van redwood gemaak is – ‘n boom wat glad nie op Hawai voorkom nie. Die wetenskaplikes wat voor-Columbiaanse kontak ontken, glo dit is stompe wat met gunstige seestrome tot by Hawai gedryf en daar uit die see “geoes” is.

Boertjie ·

Al wat die omgevalde boom nou voor goed is, is BRAAIVLEISHOUT…. Net jammer die Roomyslanders verstaan nie van braaivleis met regte hout nie. Ek sal nooit weer hoef hout te koop as ek so ‘n deel van daai boom kan oes nie :-)

Nico K ·

Baie dankie Paul vir die interessante inligting. Ja die Redwoods se hoogte (115m) laat ons geelhout maar klein lyk. En dan moet ons darem erken dat in 1880 was natuurbewaring nie groot op mense se prioriteitslys nie en om ‘n tonnel te maak was seker nie vir hulle snaaks nie. Ek aanvaar die boom in Tanzanië waarna verwys word het ook ‘n tonnel daardeur. My raaiskoot is dat dit ‘n kremetart is.

Paul ·

Die een by Arusha is ʼn soort wildevy – ʼn wurgvy. Daardie soort wat in ʼn ander boom opklim en dan later die ander boom doodmaak. Daardie een se tonnel het juis ontstaan toe die oorspronklike boom gevrek het en slegs die vy agtergelaat het.

Maggie Pringle ·

Paul, Jy ken jou boomsoorte. Pragtige stukkie inligting.
Dit bly maar hartseer as so iets gebeur.

Maggie

Rooiman ·

Interessant, hoewel die pleonasme my laat lag het. “te voet deur die tonnel loop”. Hoe anders loop n mens? Die skepping is darem net ongelooflik.

jean ·

As die mens sy vinger op iets in die natuur plaas, verrot dit…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.