Tweeling gebore wat elkeen eie baarmoeder gehad het

Jennifer Ashwood en haar tweeling, Piran en Poppy. (Foto: Facebook)

Jennifer Ashwood en haar tweeling, Piran en Poppy. (Foto: Facebook)

ʼn Tweeling van Camborne in Engeland is uit twee verskillende baarmoeders gebore.

Piran en Poppy House is op 6 Mei vanjaar op 34 weke deur middel van ʼn keisersnit gebore nadat hul ouers, Jennifer Ashwood en Andrew House, uitgevind het Jennifer het ʼn seldsame hartvormige baarmoeder.

Die New York Post berig Ashwood (31) se merkwaardige swangerskap het plaasgevind toe ʼn enkele eiersel vrygestel is in elke baarmoeder en beide op dieselfde tyd suksesvol bevrug is.

Dokters het aan die gesin gesê die kanse om ʼn tweeling só in die lewe te bring is een uit 500 miljoen.

Volgens The Sun het Ashwood en House se dokters eers tydens die 20 weke-skandering agtergekom die babas groei in twee verskillende baarmoeders. Tot op daardie punt het Ashwood nie geweet sy is gebore met ʼn seldsame hartvormige baarmoeder nie.

Andrew House, Jennifer Ashwood en die tweeling, Piran en Poppy House. (Foto: Facebook)

Andrew House, Jennifer Ashwood en die tweeling, Piran en Poppy House. (Foto: Facebook)

“Om ʼn dubbele baarmoeder te hê is op sigself ongewoon, maar om ʼn bevrugte eiersel in beide te hê en vir die eierselle om beide op die regte plek te wees, is ʼn wonderwerk,” het Ashwood gesê.

“Die kanse is so klein, maar alles het uitgewerk,” het sy gesê. “Jy dink jy ken jou liggaam, maar jy ken dit dalk glad nie.”

Sy en House het ook ʼn agtjarige dogtertjie, Millie. Volgens Ashwood, ʼn gesondheids- en sorgkoördineerder, het haar vorige swangerskap vlot verloop en was daar geen tekens van haar seldsame toestand nie.

“My liggaam het my hierdie keer baie verras,” het sy gesê. “Ek het twee aparte baarmoederholtes en een serviks. Verder is alles dieselfde; ek het twee fallopiese buise, een aan elke kant, met ʼn eierstok in elk.”

Ashwood en House, ʼn brandweerman, het in Desember verlede jaar uitgevind hulle verwag ʼn tweeling en hy het op Oujaarsaand die ja-woord gevra.

Die babas is deur middel van 'n keisersnit in die lewe gebring. (Foto: Facebook)

Die babas is deur middel van ‘n keisersnit in die lewe gebring. (Foto: Facebook)

In Januarie vanjaar het hulle uitgevind sy het dié baarmoederabnormaliteit en dokters het in Februarie onthul dat sy ʼn volkome hartvormige baarmoeder het met ʼn baba aan elke kant.

Vroue met hartvormige baarmoeders sukkel nie meer as ander om swanger te raak nie, maar daar is ʼn effense hoër risiko van miskrame en voortydige geboortes. In die meeste gevalle dra vroue met dié toestand slegs een baba in een baarmoeder.

Piran is eerste gebore met ʼn gewig van 2,5 kg. Poppy is minute later gebore met ʼn gewig van 2,3 kg. Ashwood is vyf dae later toegelaat om huis toe te gaan en die tweeling het vir nog twee weke in die hospitaal gebly vir geelsugbehandeling en voedingsondersteuning.

Ashwood sal moontlik twee voorbehoedingstoestelle laat inplant om toekomstige swangerskappe te verhoed. “Dit is nou baie, baie besig by die huis. Ons kry nie veel slaap nie, maar ek dink nie ons sou juis geslaap het al het ons net een baba gehad nie,” het Ashwood gesê.

“Dis dubbel die drukkies en dubbel die liefde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Adam ·

Net so, maar die opskrif is ‘n “juweel” Kan ek volgens die opskrif die afleiding maak dat dit twee dogtertjies is, want elkeen het haar “eie baarmoeder gehad”??

Lollie ·

Ek is verras! Toe ek swanger was met my baba jare terug het die ginekoloog ook vir my vertel dat ek 2 baarmoeders het in ń hart vorm. Nog nooit het ek voor of na die tyd van so iets gehoor nie. Gelukkig, of ongelukkig, het ek net 1 baba gehad maar hy kon nie reg draai nie a.g.v. die hart vorm.

M ·

Ek self het n hartvormige baarmoeder , asgevolg daarvan kon my baba glad nie van posisie verander het binne die baarmoeder nie , Dr het tydens keiser my baarmoeder uit gehaal om vir my man te wys en hy het toe n foto geneem vir my om te sien…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.