Tweeling in twee verskillende jare gebore

Een van die tweeling is in 2021 gebore en die ander in 2022. (Foto: Natividad Medical Centre/Facebook)

ʼn Tweeling wat 15 minute uitmekaar in Kalifornië in die VSA gebore is, het heeltemal verskillende geboortedatums – een in 2021 en die ander in 2022.

Alfredo Antonio Trujillo is om 23:45 op Oujaarsaand in die stad Salinas gebore. ʼn Kwartier later is sy sussie, Aylin Yolanda Trujillo, gebore.

Die Natividad Mediese Sentrum waar die babas gebore is, sê in ʼn verklaring daar is ʼn kans van sowat een uit twee miljoen dat ʼn tweeling in verskillende jare gebore word.

“Dit is gek om te dink dat hulle ʼn tweeling is en verskillende verjaardae het,” het Fatima Madrigal, die babas se ma, in ʼn verklaring gesê.

Dr. Ana Abril Arias het die geboortes as een van die besonderste van haar loopbaan bestempel.

“Dit was ʼn absolute plesier om die babas te help om veilig in 2021 en 2022 aan te kom.”

Ouboet Alfredo het sowat 2,75 kg geweeg, terwyl kleinsus Aylin sowat 2,5 kg geweeg het.

Die sentrums vir siektebeheer en ‑voorkoming sê nagenoeg 120 000 tweelinge word elke jaar in die VSA gebore en verteenwoordig nagenoeg 3% van alle geboortes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
tierwyfie

As ek die ouer was sou ek altwee op dieselfde dag registereer, as mens mag.

Pienkie

Ek sal hulle al 2 op dieselfde dag registreer.

Nettie

Registreer hulle op dieselfde dag wat maak n paar minute nou saak.

Pietertjie

Klink maar sensasie-wekkend. Die geboorte-proses is aaneenlopend, mens kan maar die einde van die proses neem as die geboorte-tyd van die tweeling. Wat gebeur as ‘n enkel-geboorte om 23h50 begin, en om 00h00 eindig? Of moet dit 24h00 eindig?

Charmaine

My ouers broers is ook n tweeling
Hulle is die een gebore 21 Maart en Ander een 22 Maart.