Tweeling-kleuters sterf ook in busongeluk

Die uitgebrande bus. (Foto: Dimitar KYOSEMARLIEV / AFP)

ʼn Vierjarige tweeling is onder dié wat hul lewens in ’n gru-busongeluk suid van die Bulgaarse hoofstad, Sofia, verloor het.

Die dodetal staan nou op 46.

“Vandag is ʼn dag van rou,” het Stefan Yanev, Bulgarye se tydelike eerste minister, Woensdag tydens ʼn oomblik van stilte by ʼn staatsvergadering gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat dié toeristebus, met 52 insittendes, Dinsdag aan die brand geslaan het.

Die bus het aan die brand geslaan kort nadat dit teen versperrings op die snelweg gebots het.

Slegs ses mense het die voorval oorleef. Volgens owerhede het hulle ʼn venster gebreek en daardeur ontsnap. Ondersoekers sê dit is nog nie duidelik of ʼn tegniese probleem of menslike fout die ongeluk veroorsaak het nie.

Lulzim Sulejmani (26), een van die oorlewendes, sê hy onthou dat die bus iets aan die regterkant getref en dat die wiele gebars het. Hy sê die brand wat ontstaan het, het versprei nog voor die bus tot stilstand gekom het.

“Daar was baie rook. Mense het begin opgooi en skree. Soos in ʼn gruwelfliek,” het hy aan die nuuskanaal TV Klan Macedonia gesê.

Die ongeluk het plaasgevind op ’n gedeelte van die snelweg met steil hellings en sonder duidelike afbakenlyne.

Diana Roussinova van ’n nie-regeringsorganisasie wat hom vir padveiligheid beywer, sê verskeie ongelukke is al daar aangemeld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Maggies

Di is só tragies.