Twitter-aandeelhouers nou in Musk se visier

Elon Musk. (Foto: Jim Watson/AFP)

Elon Musk sê hy het $46,5 miljard bekom om die sosialemediaplatform Twitter te koop. Hy oorweeg glo ook om aandele direk by beleggers te koop om sodoende beheer oor dié maatskappy te verkry.

Maroela Media het vroeër berig dat Musk Woensdag ʼn bod gemaak het om Twitter oor te koop sodat hy alleen in besit daarvan kan wees.

Musk, Twitter se grootste aandeelhouer en die rykste man ter wêreld, het $54,20 (R845) per aandeel aangebied, wat die waarde van dié sosialemediamaatskappy nou op $43,4 miljard te staan bring.

Musk Donderdag het Donderdag in dokumente aan die Amerikaanse aandele-sekuriteite-owerheid (SEC) gesê hy het $22,5 miljard van die finansiële dienstemaatskappy Morgan Stanley Senior Funding bekom om die koop te finansier, en dat hy onderneem om vir die res te betaal deur aandele te verkoop.

Twitter het nog nie formeel op Musk se aanbod van verlede week gereageer nie, maar het kort daarna in ʼn verklaring onthul dat die maatskappy ʼn sogenaamde “gifpil”-regsplan aanvaar het om die Tesla-eienaar se pogings af te weer.

Luidens dié verklaring sal die regsplan die “waarskynlikheid verminder dat enige entiteit, persoon of groep beheer oor die maatskappy kry, deur aandele op die ope mark te koop sonder om aan alle aandeelhouers ʼn geskikte beheerpremie te betaal, of sonder om die direksie genoeg tyd te gun om ingeligte besluite in die beste belang van aandeelhouers te neem”.

Twitter se raad het glo eenparig vir dié regsplan gestem. Die plan verhoed egter nie die direksie om met partye in gesprek te tree of ʼn verkrygingsvoorstel te aanvaar indien die direksie glo dit is in die beste belang van sy aandeelhouers nie.

“Gegewe Twitter se versuim om te reageer word die moontlikheid van ʼn tenderaanbod ondersoek,” lui die dokumente aan die SEC voorts.

Musk meen hy is die enigste een wat Twitter se volle potensiaal kan ontsluit en sê dat hy geen vertroue in die huidige bestuur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.