Twitter dalk teen einde van jaar onder nuwe bestuur  

(Foto: Brett Jordan / Unsplash)

Twitter-baas Elon Musk het Woensdag gesê dat ʼn nuwe uitvoerende hoof dié platform dalk teen die einde van die jaar kan bestuur.

Musk het verlede jaar volle eienaarskap van Twitter oorgeneem en $44 miljard vir die platform betaal. Sy oorname word in die media as ʼn “tuimeltreinrit” beskryf.

“Ek reken dat die einde van die jaar ʼn goeie tyd sal wees om iemand anders te kry om die maatskappy te bestuur,” het Musk Woensdag by die Wêreldregeringsberaad in Dubai gesê.

“Ek moet die organisasie stabiliseer en seker maak dis op ʼn gesonde plek en dat die padkaart [van die maatskappy] duidelik uitgelê is… Ek dink dit sal om en by die einde van die jaar in ʼn bestendige posisie wees.”

Musk word sedert sy oorname daarvan beskuldig dat hy sy ander ondernemings, veral die elektriese motor- maatskappy Tesla, afskeep. Die aanstelling van ʼn nuwe uitvoerende hoof vir Twitter sal dié kritiek na verwagting demp.

Musk, wat ook SpaceX op die been gebring het, het tot dusver min laat glip oor watter tipe leier hy vir Twitter soek.

Chaos het by Twitter geheers sedert Musk in Oktober verlede jaar die nuwe eienaar geword het, met heelwat afleggings, die verlies aan groot adverteerders en die herinstelling van Twitter-rekeninge wat voor sy oorname verbied was.

Die platform het ook die afgelope ruk verskeie tegniese uitdagings ondervind, insluitend ʼn voorval Sondag waar Musk se eie twiets die rekeninge van miljoene Twitter-gebruikers gedomineer het, selfs dié wat Musk nie op die platform volg nie.

Bronne by Twitter het aan die nuuswebwerf Platformer gesê dat dié voorval plaasgevind het omdat Musk ontsteld was dat ʼn twiet van die VSA se president, Joe Biden, tydens die Super Bowl meer aandag as sy eie twiets geniet het.

Daar word aangevoer dat ingenieurs ingeroep is om met die algoritme te peuter sodat meer van Musk se twiets oral op die platform sou opduik.

In nog ʼn voorval verlede week het duisende gebruikers gekla dat Twitter betalende gebruikers skielik toelaat om lang twiets van tot 4 000 karakters te plaas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.