Twitter-syfers ry wipplank dae ná Musk-nuus

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Olivier DOULIERY / AFP)

Enkele dae nadat dit bekend geword het dat die miljardêr Elon Musk Twitter gaan koop, het die sosialemediaplatform ʼn inkomste van $1,2 miljard (sowat R19,2 miljard) vir die eerste kwartaal van sy finansiële jaar aangeteken.

Dié syfer is effens onder ontleders se gemiddelde skatting van $1,23 miljard (sowat R19,7 miljard).

Twitter se aantal aktiewe gebruikers het egter weer ontleders se verwagtinge effe oortref toe dit met 16% tot 229 miljoen tydens die eerste kwartaal gestyg het.

Dié syfers sal na verwagting van Twitter se laaste verdiensteverslae wees ná die Musk-transaksie, wat na verwagting in 2022 afgesluit sal word.

Twitter het vandeesweek sy kwartaallikse verdienstekonferensie met ontleders gekanselleer nadat dit bekend geword het dat Musk, die wêreld se rykste man, ʼn ooreenkoms aangegaan het om Twitter vir $44 miljard (sowat R690 miljard) te koop.

“Gegewe die hangende verkryging van Twitter deur Elon Musk, sal ons geen vooruitskouende aanwysers bied nie, en onttrek ook alle voorheen gestelde doelwitte en vooruitsigte,” het Twitter Donderdag gesê.

Musk het sowat twee weke gelede ʼn bod gemaak om Twitter oor te koop sodat hy alleen in besit van dié sosialemediaplatform kan wees. Twitter se direksie het aanvanklik Musk se bod van die hand gewys, maar sal nou sy aandeelhouers vra om te stem om die onderhandeling goed te keur.

Dit sal beteken dat die maatskappy geen verdere verpligtinge teenoor aandeelhouers sal hê nie, asook nie meer finansiële resultate hoef te publiseer nie.

Musk het $54,20 per aandeel aangebied, wat dié sosialemediamaatskappy op $43,4 miljard waardeer.

Twitter se aandele het intussen met 0,9% gestyg tot $49,10 in voormarkhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Net soos Trump gaan die “establishment” nou alles probeer om Musk te keer.

Hanswors. ·

Elon Musk het $44 miljard betaal vir sy Twitter. Ek het myne gratis afgelaai by die google play store app. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.