Tyd al hoe minder vir mensdom op verdoemende horlosie

Die sogenaamde “Doomsday Clock” (23 Januarie 2020) (Foto: Eva Hambach/AFP)

Die sogenaamde Doomsday Clock, ʼn metafoor van hoe naby die mensdom aan wêreldkatastrofe is, skuif al hoe nader aan middernag te midde van die oorlog in Oekraïne, kernkragspanning en die klimaatkrisis.

Die Bulletin of the Atomic Scientists se wetenskap- en veiligheidsraad en sy raad van borge, wat 11 Nobelpryswenners insluit, het Dinsdag besluit om die horlosie met ʼn verdere 10 sekondes aan te pas na 90 sekondes voor middernag.

Die wetenskaplikes van die tydskrif kom elke jaar by die Universiteit van Chicago byeen, en besluit of die “Doomsday”-horlosie vooruit of agteruit gestel moet word, en indien wel, met hoeveel.

Sedert 2012 het die horlosie botstil op vyf minute voor twaalf bly staan, totdat die wetenskaplikes in 2015 besluit het om dit met ’n volle twee minute aan te skuif tot drie minute voor twaalf. Dit was in daardie stadium die naaste aan middernag sedert 1984. In 2018 is die horlosie weer aangeskuif tot twee minute voor twaalf en in 2020 is die horlosie van twee minute na 100 sekondes aangepas.

Hierdie oefening, maak nie saak hoe ernstig die wetenskaplikes dit bedoel nie, moet nie met pogings verwar word om die oordeelsdag van die Bybel te voorspel nie. Dit is veronderstel om ’n suiwer empiriese, sekulêre oefening te wees en die mensdom simbolies oor sy eie handelinge te vermaan.

Die Bulletin het in ʼn verklaring gesê die wysers van die horlosie word vanjaar aangeskuif “grootliks, maar nie uitsluitlik nie, weens Rusland se inval in Oekraïne en die verhoogde risiko van kernverhoging”. “Die voortgesette bedreiging wat die klimaatkrisis inhou en die algehele ineenstorting van wêreldwye norme en instansies om risiko’s te verlig wat met tegnologie en biologiese bedreigings verband hou, het ook ʼn impak gehad op die tyd.”

Die horlosie is aanvanklik gestel op sewe minute voor middernag. Die verste van middernag wat die horlosie nog ooit was, was ná die einde van die Koue Oorlog in 1991.

Die Bulletin het in 1945 tot stand gekom deur Albert Einstein, J. Robert Oppenheimer en ander wetenskaplikes wat aan die Manhattan-projek gewerk het – ʼn navorsing- en ontwikkelingsonderneming gedurende die Tweede Wêreldoorlog wat die eerste kernwapen vervaardig het. Die idee van die horlosie om wêreldwye kwesbaarheid tot katastrofe te simboliseer het in 1947 gevolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henri ·

Die wêreld se probleme word aan die groot klok gehang en die tyd stap aan en die tyd raak min.

Truman Burbank ·

Teoreties moes hy al by middernag gewees het. Maar iets hou dit dan en wan terug. Dalk het die pandemie nie die gewensde resultate gehad nie. Dalk n ander rede. Maar daar word vir “iets” gesoek voor dit middernag is. Hierdie is nie reset nommer een nie.

Chris ·

Indien dit nou wel waar is, is die vraag – hoekom se niemand iets oor al die steenkool wat China toe uitgevoer word nie. Hoekom word ‘n werklike ontwikkelende land soos SA gedruk tot self-vernietiging deur hierdie “DAVOS” agenda (soos deur Forbes berig) van “Welcome To 2030: I Own Nothing, Have No Privacy And Life Has Never Been Better”. Die mense wat hierdie agenda dryf is boos verby!!

Surfer ·

In ons lieflike Suid Afrika is dit al kwart oor twaalf. En pik donker.

Gideon ·

God bepaal en het beheer oor ALLES, nie die mens nie, punt is JESUS GAAN terug keer, is jy reg?

Truman Burbank ·

Enige iemand wat die boosheid van hierdie wereld geskep het, is inherent boos.

quartus ·

Hier in SA voel ons heelwat nader aan 12 uur as ander dele van die wereld !

Nico ·

Gaan lees Matt. 24. Die profetiese rede. Die begin van smarte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.