Uganda na stembus midde internetonderbreking

Die veteraanleier Yoweri Museveni en sy teenstander, Bobi Wine.
(Foto’s: Sumy Sadurni en YASUYOSHI CHIBA / AFP)

Ugandese het Donderdag onder die wakende oog van talle veiligheidsbeamptes en ʼn grootskaalse internetonderbreking in ʼn reeds gespanne verkiesing begin stem.

Die veteraanleier Yoweri Museveni (76) mik na ʼn sesde termyn as president van Uganda hoewel sy teenstander, Bobi Wine, ʼn 38-jarige voormalige popster, veral gewild is onder jong kiesers.

Kiesers in Kamwokya waar Wine grootgeword het, het vanoggend na stembusse gestroom en die plaaslike polisie moes bontstaan om te verseker dat sosiale afstand gehandhaaf word te midde van die Covid-19-pandemie.

Kiesers staan in toue by ‘n stemlokaal in Kampala, Uganda. (Foto: YASUYOSHI CHIBA / AFP)

“Ek is hier om die leierskap van hierdie land te verander, want hulle sê al jare lank dat hulle my toekoms sal beveilig. Hulle het dit steeds nie gedoen nie,” het kieser Joseph Nsuduga (30) in ʼn tou na die stembus gesê.

“Ek moet verandering vir my kinders sien. Mense smag na verandering, maar ons sien niks nie.”

Museveni regeer Uganda sedert 1986 en baie Ugandese het nog nooit iemand anders as Museveni aan bewind geken nie. Die voormalige rebelleleier is vroeër jare geloof vir sy toewyding tot goeie regering, maar weier nou ná byna vier dekades in die tuig om af te tree.

Sowat 18 miljoen kiesers is geregistreer vir vanjaar se presidensiële en parlementêre verkiesing. Die uitslag word teen Saterdag verwag.

Wine het sy ondersteuners versoek om in groot getalle op te daag en te stem en sê dat hulle nie bang moet wees vir intimidasie deur die owerhede nie.

Museveni het egter sy teenstanders daarteen gewaarsku om die strate in te vaar.

“Dit is verraad indien jy geweld gebruik om te betoog teen ʼn verkiesingsuitslag,” het die president Dinsdag in ʼn nasionale toespraak gesê.

(Foto: AFP)

(Foto: AFP)

(Foto: AFP)

(Foto: AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Lyk my in Uganda kan jy darem ‘n merkie maak vir die President van JOU keuse. Hier in Suid Afrika word hy/sy VIR jou gekies. Ek weet ek sou nie Cyril Ramaphosa, NDZ of David Mabuza gekies het as president.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.