‘Uitmergelendste wedloop ter wêreld’ pas afgehandel

‘Uitmergelendste wedloop ter wêreld’ pas afgehandel (Foto: Badwater/Verskaf)

Moontlik die uitmergelendste wedloop ter wêreld is dié week in die Kaliforniese Death Valley in die VSA beslis.

Altesaam 97 uitgesoekte atlete van die VSA en 25 ander lande het vir die wedloop van 217 km aangetree. Hul wegspring was by Badwater, die laagste punt in die VSA en 85 m onder seevlak. Hul eindpunt was by Whitney Portal, 2 500 m bo seevlak.

Die roete strek egter oor drie bergreekse en die hoogste punt was meer as twee keer so hoog as by die eindpunt. Die atlete hardloop deur plekkies met name soos Furnace Creek, Salt Creek, Devil’s Cornfield, Devil’s Golf Course en Stovepipe Wells, en sal sommige sal stellig wonder of hulle nie deur die duiwel self se wêreld hardloop nie.

Hoewel die atlete in die wedloop, bekend as die jaarlikse Badwater-ultramarathon, in die nag weggespring het, was die temperatuur ’n onverbiddelike 46 °C. Boonop is die teerpad waarop die atlete hardloop selfs nóg warmer … alles deel van die uitdaging.

Die deelnemers is meestal mense wat al verskeie uitsonderlike prestasie bereik het, soos om al sewe die hoogste pieke in die wêreld met die eerste probeerslag baas te raak, of die afstand tussen Los Angeles en New York te voet afgelê het. Vele moes hul toonnaels laat verwyder, en van hulle het selfs meer omvattende chirurgie aan hul voete of tone ondergaan. Verskeie het ook al voorheen aan hierdie marathon deelgeneem.

Die atleet wat die wedloop in die vinnigste tyd afgelê het, is die 28-jarige Amerikaner Pete Kostelnick met ʼn tyd van 21:56:32. Die vinnigste vrou oor die wenstreep was die 34-jarige Alyson Venti van die VSA met ’n wentyd van 25:53:07.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiepie ·

In hardloopkringe sê ons altyd, as iemand mal genoeg is om dit uit te dink sal daar altyd iemand wees wat mal genoeg is om dit te probeer. Nogtans haal ek my hoed af vir hierdie atlete. Ek wonder hoeveel van die oorspronklike 97 het klaargemaak.

Daan Erasmus ·

Dit is seker die uitmergelendste wedloop. Daar is egter geen uitmergelender sport as die Tour de France nie. 21 dae en 3500 km. Dit is so die ekwivalente van 4 of 5 rugby of sokker wedstryde per dag. Vir 21 dae.

johnny_walker ·

ek dink weer dis iron man , ek het dit nooit self gedoen nie , ek het comrades verkies maar ek het met van hulle geoefen en ek respekteer die maan wat iron man doen

My wedren ·

My uitmergelendste wedren is om my vorm vir die ‘Ontvanger van al my Inkomste’ in te vul.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.