Uitspraak kom vandag oor Djokovic-appèl

Novak Djokovic (regs) kom by sy appèlverhoor aan (Foto: Tania LEE/AFP)

Ná al die drama van die afgelope week en kort voor die aanvang van die Australiese Ope, sal ʼn hof vandag beslis of die toernooi môre sonder die topmanspeler Novak Djokovic sal begin.

Die uitspraak in die Serwiër se appèl teen die herroeping van sy visum word binne ure verwag. “Ons hoop om in ʼn posisie te wees om later vanmiddag aan die partye aan te dui wat ons as die roete vorentoe voorstel,” het hoofregter James Allsop gesê.

Die nuusagentskap AFP berig die appèlverhoor het vier uur geduur met driftige heen-en-weer regsargumente oor Djokovic se standpunt teen inenting en sy beweerde risiko vir openbare orde in Australië.

Djokovic se regspan het Australië se pogings om hom te deporteer as “irrasioneel” en “onredelik” bestempel. Die paneel van drie regters het ook indringende vrae gestel. Nick Wood, Djokovic se regsverteenwoordiger, het probeer om die regering se argument uitmekaar te skeur dat Djokovic se teeninenting-standpunt ʼn openbare bedreiging is en tot burgerlike onrus kan lei as hy nie uit die land geskop word nie.

Volgens Wood het Djokovic nie steun gesoek by diegene wat teen inentings gekant is nie en is hy ook nie betrokke by die beweging nie. Volgens Wood weet die regering nie eens wat Djokovic se huidige standpunt is nie.

Stephen Lloyd, die regering se regsverteenwoordiger, sê die feit dat Djokovic twee jaar nadat die pandemie begin het, nog nie ingeënt is nie en herhaaldelik veiligheidsmaatreëls ignoreer, is genoeg bewys van sy teeninenting-standpunt. Hy was ook nie in isolasie toe hy positief getoets het vir Covid-19 nie.

“Hy het nou ʼn ikoon geword vir die teeninentingsgroepe,” het Lloyd gesê. “Reg of verkeerd, die opvatting is dat hy die standpunt teen inenting steun en sy teenwoordigheid hier word beskou as dat dit daartoe bydra.”

Die regering het ook daarop gewys dat Djokovic gekies het om nie te getuig nie.

“Hy kon alles opklaar as daar ʼn misverstand was. Hy het nie en dit het belangrike gevolge.”

Die politiek van die hele drama moet ook nie buite rekening gelaat word nie. Sou Djokovic wen, sal dit nog ʼn terugslag wees vir die beleërde Australiese eerste minister, Scott Morrison, wat na verwagting in Mei ʼn verkiesing moet wen.

Talle Australiërs, wat streng ingeperk was vir lang tye tydens die pandemie, meen Djokovic het probeer om die stelsel te omseil.

Die Spanjaard Rafael Nadal het gister na Djokovic gekap, want spelers kla dat die debakel ʼn donker wolk oor die Australiese Ope plaas. “Die Australiese Ope is baie belangriker as enige enkele speler. Die Australiese Ope sal ʼn fantastiese toernooi wees, met of sonder hom.”

Maar kan dit?

As Djokovic se appèl slaag, sal hy môreaand teen sy landgenoot Miomir Kecmanovic moet speel in die tweede wedstryd van die aandsessie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

madels ·

Uiters twak dat hy nou kwansuis n bedreiging is en tot burgerlike onrus sal lei net omdat hy nie ingeënt is nie! Die mense het nou almal mal geword van vrees. As jy mos ingeënt is hoekom bang dan om COVID te kry?!?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.