Zimbabwe se konstitusionele hof sal Vrydag uitspraak lewer oor die opposisieparty se aansoek om die uitslag van verlede maand se presidensiële verkiesing te betwis.
Die regspanne van regerende Zanu PF en die opposisie, die MDC-Alliansie, het Woensdag hul onderskeie sake in die hof gestel, met die opposisie wat aanvoer die verkiesingsuitslae is gekook sodat Emmerson Mnangagwa as wenner uit die presidensiële stryd kon tree.
Die MDC-Alliansie het onder meer aangevoer dat 16 stempunte identiese uitslae gehad het “wat daarop dui dat die uitslae gedokter is”, asook dat ʼn verkiesingsbeampte by een van die stempunte weggejaag is toe sy wou kyk hoe die stemme getel word.
Polisiebeamptes het Woensdagaand die strate van Harare afgesper waar spanning hoog geloop het oor die hofsaak.
Die Africa Judges and Jurists Forum (AJJF) het senior regters en regsgeleerders ontplooi om die hofsaak by te woon. Arnold Tsunga, die Afrika-direkteur by die International Commission of Jurists, het onthul dat drie AJJF-regsgeleerdes geakkrediteer is om die hofverrigtinge by te woon.
Intussen berig Reuters dat daar gister ʼn hewige woordewisseling tussen Mnangagwa en adjunkpresident Constantino Chiwenga in die presidensiële kantoor ontstaan het oor wie in beheer is van nasionale sekuriteit. Chiwenga het glo in ʼn stadium vir Mnangagwa daaraan herinner dat dit hy was wat die president in sy posisie aangestel het nadat Robert Mugabe verlede jaar deur ʼn staatsgreep verwyder is.
Die Zimbabwiese Verkiesingskommissie (ZEC) het verlede maand na afloop van die verkiesing aangekondig dat Mnangagwa 50,8% van die stemme getrek het terwyl Chamisa 44,3% van die stemme ontvang het.
Dit was die eerste verkiesing in die land nadat Mugabe in November onder militêre druk uitgetree het. Talle Zimbabwiërs het gehoop die vreedsame stemmery sal ʼn nuwe era beteken vir Zimbabwe, maar minstens ses persone is twee dae later dood toe die weermag die hoofstad bestorm het om betogers van opposisiepartye te verjaag.
Die konflik wat na afloop van die verkiesing tussen Mnangagwa en Chiwenga ontstaan het, skets ʼn duidelike prentjie van die magstryd wat steeds in dié Afrika-land voortduur en Zimbabwe se toekoms kan bepaal.