Uma Thurman oor Weinstein, Tarantino

Uma Thurman (AP Photo/Alastair Grant)

Die aktrise Uma Thurman het die Amerikaanse rolprentvervaardiger Harvey Weinstein van seksuele teistering beskuldig en verduidelik waarom sy haar vertroue in regisseur Quentin Tarantino verloor het.

Dié nuus volg nadat Weinstein daarvan beskuldig is dat hy verskeie vroue verkrag en ander seksueel geteister het. Hy is ook daarvan beskuldig dat hy van die vroue betaal het om nié oor die seksuele teistering en aanranding te praat nie.

Thurman het verlede jaar aangedui dat sy ook ʼn storie het, maar sy wil eers wag totdat sy nie meer so kwaad is nie. Sy het egter tydens ʼn onderhoud met Maureen Dowd van die New York Times gesê sy het die woord “kwaad” gebruik, “maar ek was eerder bekommerd dat ek sou begin huil, om die waarheid te sê”.

Thurman het gesê sy was in die 1990’s in ʼn hotelkamer in Parys saam met Weinstein toe hy skielik met ʼn kamerjas verskyn het en haar na ʼn stoomkamer gelei het, maar sy het nie bedreig gevoel nie. Sy het gesê die eerste “aanval” het later in Londen plaasgevind waar hy haar vasgepen en “allerhande onaangename dinge” gedoen het.

Sy het glo later in ʼn vergadering Weinstein gewaarsku: “As jy dit wat jy aan my gedoen het, aan enigiemand anders doen, sal jy jou loopbaan, reputasie en familie verloor. Dit beloof ek jou.”

Thurman het later aan ʼn vriendin gesê Weinstein, een van die magtigste mense in Hollywood, het gedreig om haar loopbaan te ontspoor.

Ben Brafman, prokureur vir Weinstein, het gesê die vervaardiger is “geskok en hartseer” oor die valse bewerings van Thurman. Hy het dit beklemtoon dat Weinstein en Thurman meer as twee dekades lank saam gewerk het.

Brafman het in ʼn verklaring gesê Weinstein erken dat hy 25 jaar gelede “ongemaklik by haar aangelê het”, maar dat hy “dadelik om verskoning gevra het” en baie spyt is daaroor. Hy het gesê dit is ʼn raaisel waarom Thurman so lank gewag het voor sy die bewerings aan die lig gebring het of dat sy oordryf wat regtig gebeur het deur valse bewerings te maak van poging tot fisiese aanranding.

Hy het gesê Thurman se uitlatings aan die Times “word ondersoek” voor Weinstein sal besluit of hy regstappe teen haar sal neem.

Thurman, een van Quentin Tarantino se sterre in Kill Bill: Vol. 1, het gesê sy het net voor hulle met verfilming begin het, vir die regisseur vertel wat met Weinstein gebeur het. Hy het Weinstein glo gekonfronteer en dié het om verskoning gevra.

Thurman het Saterdag in ʼn aparte bewering, in dieselfde New York Times-artikel gesê Tarantino het haar gedwing om in ʼn motor te ry wat, volgens haar, foutief was. Die regisseur het glo haar vrese geïgnoreer om met dié motor in Mexiko te ry. Hy het haar glo oorreed om dit te doen en glo gesê: “Haal 40 myl per uur of jou hare sal nie reg waai nie en jy gaan dit weer moet doen.”

Volgens ʼn video wat saam met die artikel aanlyn gepubliseer is, wat Thurman glo 15 jaar lank geneem het om in die hande te kry, wys hoe die aktrise sukkel om die motor te beheer, in ʼn boom vasry en dan uit die motor gedra word. “Dit was ʼn doodskis waarin ek gery het,” het Thurman gesê.

Dit het glo gelei tot ʼn permanent beskadigde nek, harsingskudding en ʼn knie-besering.

ʼn Verteenwoordiger vir Tarantino was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Luister ·

Tarantino se flieks is baie gewelddadig. Ek dink hy
het ‘n skroef los. Het net een (Pulp Fiction), volledig gekyk.

Denise ·

Ek dink meer die vrouens het n skroef los hoe kan jy dat iemand jou so behandel en dit net laat verby gaan en so dink die persoon dit is okay en gan net voort!!!!!

Anel ·

Wanneer laas was sy in `n film? Ek dink sy soek net aandag, glo nie `n word wat sy se nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.