Unieke operasie om ollies se tandpyn te verlig

Spesiaal ontwerpte en endodontiese bore is onder meer ingespan om op die 16- en 17-jarige olifantkoeie by die Karachi-dieretuin te opereer. (Foto: Four Paws | Hristo Vladev)

Veeartse en kundiges verbonde aan die internasionale organisasie Four Paws het oor die afgelope twee dae unieke operasies op twee olifante van die Karachi-dieretuin in Pakistan uitgevoer om ernstige tandpyn te verlig.

Dié olifanttandoperasie is minder indringend en behels tegnieke wat minder ingewikkelde nasorg benodig – juis weens die toestande by die dieretuin. Spesiaal ontwerpte en endodontiese bore is saam met ander tandheelkundige instrumente ingespan om op die 16- en 17-jarige olifantkoeie, Noor Jehan en Madhubala, te opereer.

Dit is onder leiding van dr. Amir Khalil in samewerking met dr. Marina Ivanova en ander wildlewekundiges, onder wie dr. Frank Göritz en dr. Thomas Hildebrandt van die Leibnitz Institute for Zoo and Wildlife Research (IZW), gedoen.

Sonder die operasie sou die olifante – twee van die laaste vier olifante in aanhouding in Pakistan –  ernstige skade kon ly en selfs vrek.

“Hul slagtande was gebreek en die weefsel in die wonde was ontsteek en besmet,” het Khalil gesê. “Hulle het baie pyn gehad en sonder behandeling sou die ontsteking vererger en blindheid, breinskade of dood veroorsaak het.”

Khalil verduidelik dat die olifante staande onder verdowing geplaas is, terwyl die span dooie weefsel verwyder en die wortelkanaal skoongemaak het. Die plaaslike versorgers het ook opleiding oor nasorgbehandeling en die skoonmaak van die olifante se wonde ontvang.

Twee olifante van die Karachi Safaripark het behandeling vir hul pote en naels ontvang.
(Foto: Four Paws | Hristo Vladev)

“Alles het goed gegaan en ons verwag goeie uitslae vir die olifante se herstel. Dit was ’n baie belangrike stap om hul welstand te bevorder.”

Broodnodige mediese behandeling is ook oor die afgelope twee dae vir die ander twee olifantkoeie, wat by die Karachi Safaripark aangehou word, gebied. Dié olifante, Malika en Sonu, het behandeling vir hul pote en naels ontvang.

Volgens Khalil was die olifante se naels onder meer gekraak en oorgroei, en het hulle absesse aan hul pote gehad. Die span het reeds in November verlede jaar aanbeveel dat die vier olifante almal ter wille van hul welstand by die Karachi Safaripark herenig moet word.

“Hulle het ook ’n geskikte dieet, verryking en stimulering nodig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miskruier ·

Bly ons kon die diere help, jammer om te sien my mense kan nie meer tandartse bekostig nie.

Kirst ·

“Hul slagtande was gebreek en die weefsel in die wonde was ontsteek en besmet”. Olifante het ‘n lang senuwees in hulle slagtande (die langes wat sigbaar is buite die mond). As die senuwee ontbloot word as ‘n tand breek is dit vrek seer en kan ontsteek raak tot dit uiteindelik doodgaan en die tand heeltemal uitval.

Sandra ·

Four Paws, nie plaaslik, maar internasionale organisasie, weer aan die werk om diere in nood te help. Ek so bly om te hoor dat die olifante nou minder pyn sal he. Hul verdien ‘n goeie lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.