Unieke podiums ʼn eerste vir 2020- Olimpiese Spele

Miraitowa, die gelukbringer vir die Tokio 2020 Olimpiese Spele, Dinsdag by die Olympic Corner in Tokio. (Foto: Jae C. Hong/AP)

Organiseerders van die Olimpiese Spele wat volgende jaar in Tokio, Japan, sal plaasvind, het reeds aangekondig dat hul goue, silwer- en bronsmedaljes gemaak sal word uit elektroniese toestelle wat weggegooi is. Maar nou gaan hulle nog ʼn stappie verder.

Die podiums waarop die atlete sal staan wanneer hulle hul medaljes ontvang, sal hoofsaaklik uit herwonne huishoudelike plastiek gemaak word. Dit is die eerste keer dat so iets vir ʼn Olimpiese Spele gedoen word.

Toshiro Muto, uitvoerende hoof van die Olimpiese Spele se organiseringskomitee, sê hulle glo die projek sal ʼn baie groter betekenis uitdra. “Dit sal nie net ʼn boodskap aan Japan stuur nie, maar ook aan die res van die wêreld,” het hy gesê.

Muto het Dinsdag by ʼn mediakonferensie gesê daar sal na verwagting 100 stelle podiums gebou word, alles uit herwonne plastiek wat waarskynlik met aluminium versterk sal word.

Channel News Asia berig organiseerders meen hulle sal sowat 45 ton plastiek nodig hê om die podiums te vervaardig. Die weggooiplastiek sal by 2 000 winkels ingesamel word. Bokse sal buite dié winkels geplaas word waar inwoners herwinbare plastiekvullis kan stort. Daar sal ook gebruik gemaak word van plastiek wat versamel is tydens oseaan-skoonmaakoperasies.

Die organiseerders van die 2020- Olimpiese Spele was nog deurentyd gretig om ʼn eko-vriendelike boodskap uit te stuur. Afgesien van die podiums en medaljes, sal Japannese atlete ook deelneem in amptelike spandrag wat gedeeltelik gemaak is uit herwonne kledingstukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Blommie ·

Ek het sedert gister opgelet dat van die fotos wat op nuusberigte geplaas word nie op die oorspronklike berig verskyn nie, maar wel wanneer ek die “Kommentaar” veld open. Lê die fout dalk by my foon?

Sune van Heerden ·

Dagsê Blommie

Dankie vir jou terugvoer.
Stuur asseblief vir ons ‘n skermskoot ter verduideliking per e-pos aan maroelamedia.co.za – dan kan ons kyk waar presies lê die probleem.
Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Onnie ·

Ek ervaar dieselfde probleem al baie lank, maar nou nog erger as voorheen. Meeste videos moes ek voorheen so kyk, maar deesdae die fotos ook. Kan dit net sien as ek op kommentaar kliek.

Saint ·

En na die Olimpiese.Spele beland die podiumstukke maar weer in die see.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.