Universiteit verbied kletsbot wat eksamen slaag

(Argieffoto: Pixabay)

Die internetsensasie ChatGPT, ʼn kunsmatige intelligensie (KI)-kletsbot wat in 2015 die lig gesien het, is Vrydag by een van Frankryk se mees gesogte universiteite tot swye gebring.

AFP berig dat Sciences Po Paris (Institut d’études politiques de Paris) die eerste universiteit in Frankryk is wat studente verbied om ChatGPT te gebruik om hulle opdragte te voltooi.

Die kletsbot reageer op eenvoudige instruksies met uitgebreide teks wat saamgestel word uit data wat op die internet beskikbaar is.

In ʼn ope brief aan studente en dosente het Sciences Po gesê die gebruik van ChatGPT, sonder erkenning aan die bron, en ander KI-instrumente is op die oomblik streng verbode vir enige studente wat skriftelike of mondelinge opdragte lewer.

“Enigiemand wat die kletsbot gebruik, sal ernstige gevolge in die gesig staar wat tot skorsing uit die instelling of selfs uit die hoër onderwys kan lei.”

Een van die uitsonderings waar ChatGPT wel geraadpleeg mag word, is vir opvoedkundige gebruike wat onder die toesig van ʼn dosent plaasvind.

Die aankondiging deur Sciences Po volg kort nadat ChatGPT die afgelope week eksamens by ʼn Amerikaanse regskool geslaag het. Die bot het opstelle oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, wat wissel van grondwetlike tot deliktereg, geskryf.

Jonathan Choi, ʼn professor aan die Minnesota University Law School, het die bot dieselfde toets as studente laat aflê, en dit het ʼn C+ behaal, net genoeg om te slaag.

Choi het egter die moontlikheid dat studente die bot kan gebruik om te verneuk, weerlê. “Twee uit drie eksaminatore het die bot-geskrewe antwoordstel uitgeken.”

Sciences Po is nie die eerste instelling wat die gebruik van ChatGPT kortwiek nie.

Amptenare in New York en ander jurisdiksies het reeds die gebruik daarvan in skole verbied en ʼn groep Australiese universiteite het ook aangedui dat eksamenformate gewysig sal word in ʼn poging om KI-instrumente te verban en as bedrog te verklaar.

Volgens AFP het talle universiteite reeds sagteware wat plagiaat identifiseer, en minstens een programmeerder werk aan ʼn app wat KI-gegenereerde tekste opspoor.

ChatGPT behoort aan OpenAI en dié Amerikaanse maatskappy het onlangs ʼn multimiljard dollar-beleggingsooreenkoms met Microsoft gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andries ·

Ja , edit copy – edit paste beteken allermins dat die kennis in die kop is. Dit is ‘n uiters kommerwekkende ontwikkeling en ALLE universiteite behoort die Franse voorbeeld te volg.

Pieter9 ·

Alle opvoedkundige instansies sal onmiddellik beleid moet daarstel wat hierdie gelyk aan plagiaat stel – dink net wat gaan gebeur as veral skoliere hierdie ontdek. Onderwysers, (veral met verwysing na die in plattelandse gemeenskappe), het nie die vermoë om tussen ChatGPT en eie werk te kan onderskei nie. Departement van Onderwys moet nie nou sit en slaap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.