‘Unplanned’: Só behandel Hollywood pro-leweboodskappe

Die rolprent ‘Unplanned’ sal einde Februarie in uitgesoekte plaaslike teater wys. Foto: Verskaf.

Dié onafhanklike rolprent Unplanned het bo verwagting goed by die loket gevaar, ten spyte daarvan dat Amerikaanse media die fliek die rug gekeer het. Nou sê kenners Hollywood het dubbele standaarde wanneer dit kom by reklame vir onderskeidelik pro- en anti-aborsiestandpunte.

Unplanned is gegrond op die ware lewensverhaal van Abby Johnson (vertolk deur Ashley Bratcher) wat eens die jongste direkteur vir Planned Parenthood se klinieke in die VSA was. Hierdie klinieke is pro-aborsie en gee talle vroue raad oor hul voortplanting- en ouerskapkeuses.

Die rolprent vertel van die transformasie wat Johnson ondergaan het toe sy eerstehands aanskou het hoe ʼn aborsie uitgevoer is. Die film beeld uit hoe haar lewe en naam op die spel geplaas is en hoe sy ʼn passievolle en ywerige pro-lewewoordvoerder word.

Die rolprent het drie nominasies by die MovieGuide Awards ontvang. Dié toekenningsgeleentheid het ʼn Christelike tema en sê dit gee erkenning aan “die goeie in Hollywood”.

“Mense wat na vanjaar se toekenningsgeleentheid op Hallmark Drama gekyk het, sou egter glad nie besef het Unplanned is enigsins benoem nie, aangesien die naam van die rolprent drie keer uit die kanaal se beeldsending van dié geleentheid geredigeer is,” het Christian Toto van die DailyWire.com gesê.

“Verbeel jou net dat die Oscar-seremonie, of enige ander toekenningsgeleentheid, dieselfde met ʼn fliek sou doen.”

Ted Baehr, die stigter en uitgewer van MovieGuide, het ter verdediging aan LifeSiteNews.com gesê sy maatskappy moes die toekenningsgeleentheid van drie en ʼn half uur tot ʼn TV-program van slegs 42 minute verkort, daarom dat verwysings na Unplanned verwyder is. Baehr het bygevoeg dat MovieGuide, en nie Hallmark Drama nie, besluit het om enige vermelding van Unplanned tydens die verkorte weergawe te verwyder.

Hallmark en Baehr het albei verskoning aan die rolprentmakers en Bratcher, die ster van Unplanned, gebied. Dít nadat Bratcher alarm gemaak het oor die weglating van die fliek se naam met die uitsending van die seremonie.

Hallmark en MovieGuide het daarna ook die beeldsending van die seremonie op 9 Maart herhaal met Unplanned wat teruggevoeg is op die lys van genomineerdes.

Toto meen die gebeure by die toekenningsgeleentheid onderstreep die dubbele standaarde wat popkultuur oor die onderwerp handhaaf net nog duideliker.

Toto sê die hantering van die film is in direkte kontras met die media se positiewe ontvangs van Busy Phillips, ʼn aktrise van Cougar Town en pro-aborsie-aktivis, wat verlede week gesê het sy skryf haar sukses in die vermaaklikheidsbedryf direk daaraan toe dat sy in staat was om ʼn aborsie op 15-jarige ouderdom te kon hê.

“Ek het dit alles, net omdat ek op 15 liggaamlike selfseggenskap toegelaat is,” het die aktrise aan die gehoor gesê. Die 40-jarige aktrise het ook gesê sy is nie skaam daaroor nie en sal nie stilbly oor haar aborsie nie.

Volgens Toto sal Phillips nie haar werk verloor oor haar pro-aborsie-standpunt nie en groot mediahuise het ook nie geweier om haar kommentaar oor te dra nie.

“Dit is ook reg so, want dié aktrise moet die reg hê om haar sê te sê. Die media en die publiek moet ook in staat wees om haar kommentaar hieroor te oorweeg,” het Toto gesê.

Wat hom egter diep bekommer, is die skreiende dubbele standaarde rakende standpunte wat deur anti-aborsie-aktiviste geuiter word. “Kyk maar hoe min belangstelling is daar in die jaarlikse pro-lewe-optog, March for Life, in vergelyking met die dekking van pro-aborsie-optogte, wat dikwels veel kleiner is.”

Die uitdagings waarmee die span van Unplanned te doen gehad het, het ook nie by die onlangse MovieGuide-toekennings begin nie.

Die rolprentmakers van Unplanned moes talle uitdagings te bowe kom om die film te wys: Talle televisiekanale het geweier om advertensies van die rolprent uit te saai. Musiekuitgewers het geweier om hulle liedjies vir die rolprent beskikbaar te stel. Die MPAA, die VSA se organisasie wat ouderdombeperkings op rolprente instel, het die fliek ʼn R-beperking gegee, wat beteken dat enigiemand onder 17 volwasse toesig moet hê wanneer hulle die fliek kyk. Dít terwyl die inhoud van die film van só ʼn aard is dat dit skaars ʼn waarskuwing verdien. Google het die rolprent as propaganda gemerk en Twitter het die rolprent se amptelike rekening ʼn paar uur lank gedurende sy openingsnaweek gesluit.

In dieselfde week as die MovieGuide-debakel en Phillips se uitlatings oor aborsie, is ʼn nuwe lokprent van ʼn fliek met aborsie as tema uitgereik.

Rarely sometimes always sal op 13 Maart by uitgesoekte teaters in die VSA begin wys.

Dié rolprent handel oor twee tienermeisies van die platteland van Pennsilvanië wat gekonfronteer word met ʼn onbeplande swangerskap. Dit word beskryf as twee meisies wat ʼn reis van vriendskap, dapperheid en deernis aanpak en sonder ondersteuning die staatsgrense na die stad New York oorsteek, waar hulle hulp met die swangerskap kan ontvang.

“Die rolprent se vertoning by filmfeeste het dit ʼn 100% ‘vars’ gradering op RottenTomatoes.com besorg. Indiewire.com het die fliek se lof besing en die MPAA het die rolprent ʼn beperking van slegs PG 13 gegee, terwyl Entertainment Weekly dié rolprent as ‘ʼn dringende, buitengewone fliek’ beskryf.

“As dié fliek benoemings ontvang met Desember se toekenningsgeleentheid, is die kanse goed dat elke toekenningsgeleentheid beslis nie gaan huiwer om die rolprent se naam te noem nie,” het Toto afgesluit.

  • Ná talle aanlyn petisieveldtogte het Downtown Entertainment en TruthTV kragte saamgespan om dié rolprent vanaf 28 Februarie 2020 in uitgesoekte Ster Kinekor-teaters in Suid-Afrika, Namibië en Zambië te vertoon. Unplanned wys tans nog by van hierdie teaters; besoek Ster Kinekor se webwerf om kaartjies vir die fliek te bespreek.
  • Kyk hier na die lokprent van Unplanned:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sonia ·

Ek stem saam met Charles, aborsie is moord en die dubbele standaarde soos in die artikel genoem is bloot een van die tekens van ons tyd waar ‘n lewe nie veel werd is nie en nog minder dié van ‘n ongebore baba wat nie hom/haarself kan verdedig nie.

AmY ·

Ek het op youtube na videos van aborsies gekyk. Dis bitter erg. Daar is selfs atikels waar babas wat die aborsies oorleef het (en huil) in suur gesit word…. ;-(

Sarel ·

Indien hulle die Rolprentbop die manier behandel beteken dit dat hulle bang is vir die sukses van die boodskap. Die vervaardigers het beslis moed getoon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.