Usain Bolt jaag steeds sy sokkerdroom na

Usain Bolt tydens ‘n vriendskaplike wedstryd tussen Central Coast Mariners en die Central Coast Select in Gosford, Australië (Augustus 2018) (AP Photo/Steve Christo, File)

Die voormalige Olimpiese naelloper Usain Bolt jaag steeds sy droom na om professioneel sokker te speel, ondanks sy onsuksesvolle poging om ʼn ooreenkoms met ʼn Australiese sokkerspan te bereik.

Bolt was ook onsuksesvol om deel te word van spanne in Duitsland, Noorweë en Suid-Afrika.

Die 32-jarige Jamaikaan het uit atletiek uitgetree nadat hy agt Olimpiese goue medaljes gewen het en streef daarna om ʼn beroepsokkerspeler te word.

“Ons sal sien wat gebeur. Ek dink mense kontak nog steeds my agent vir geleenthede, so ons sal sien in watter rigting dit stuur,” het Bolt Saterdag gesê.

Sy proeflopie met die A-liga Central Coast Mariners het “met onmiddellike effek” tot ʼn einde gekom nadat die partye nie ʼn ooreenkoms kon bereik nie, het die klub Vrydag aangekondig.

Usain Bolt tydens ‘n liefdadigheidswedstryd tussen Central Coast Mariners en Macarthur South West United in Campbelltown, Australië (Oktober 2018) (Foto: Xinhua/Bai Xuefei)

“Ek wil graag die eienaars, bestuur, personeel, spelers en aanhangers van Central Coast Mariners bedank dat hulle my so verwelkom het,” het Bolt bygevoeg. “Ek wens hulle alle sterkte toe vir die seisoen.”

Die “wêreld se vinnigste man” het twee keer voor die amptelike seisoen vir die klub gespeel en twee doele in een wedstryd aangeteken.

“Dis jammer dat dit nie uitgewerk het nie, maar ons is op goeie voet uit mekaar,” het Bolt aan die Herald Sun-koerant gesê. “Ek het baie goeie ondervinding opgedoen. Die ouens was wonderlik. Ons kon net nie ʼn ooreenkoms bereik nie. Hopelik sal ek nog ʼn kans kry met ʼn ander span.”

Volgens die Australiese Associated Press het die Mariners ʼn kontrak van ongeveer AUS$150 000 (ongeveer R1,5 miljoen) aangebied, sonder enige waarborg dat die Jamaikaan ʼn A-liga-wedstryd sal speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ek dog ek sê maar net... ·

Great foto. Ek hoop hy kom reg. Het nog altyd van hom gehou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.