Usain Bolt ʼn tweeling ryker

‘n Gesin van vyf. (Foto: Usain Bolt/Instagram)

Die “wêreld se vinnigste man” is nou ’n pa van drie en kan hopelik ook blitsvinnig doeke ruil.

Die voormalige Olimpiese naelloper Usain Bolt en sy lewensmaat, Kasi Bennett, het Sondag die geboorte van hul tweelingseuntjies, Thunder Bolt en Saint Leo Bolt, aangekondig.

Die 34-jarige Jamaikaan het dié nuus op Vadersdag met ’n familiefoto op Instagram aangekondig. Hy het nie bekend gemaak wanneer die tweeling gebore is nie.

Die paartjie se dogter, Olympia Lightning Bolt, is in Mei verlede jaar gebore. Haar naam is eers twee maande later bekend gemaak.

Usain Bolt. Argieffoto.

Bennett het ook ’n foto van die gesin van vyf op sosiale media geplaas om Bolt ’n gelukkige Vadersdag toe te wens. “Jy is die rots van hierdie gesin en die beste pappa vir ons kleingoed,” lui haar inskrywing.

Boodskappe van gelukwensing van aanhangers sowel as wêreldberoemde atlete stroom sedertdien in. Die Jamaikaanse naelloopster Shelly-Ann Fraser-Pryce, die Amerikaanse 200 m-spesialis Wallace Spearmon en die 200 m-wêreldkampioen Dina Asher-Smith van Brittanje was onder diegene wat die gesin gelukgewens het.

Bolt het in 2017 uit atletiek uitgetree nadat hy agt Olimpiese goue medaljes gewen het. Bolt staan bekend as die “wêreld se vinnigste man” en hou steeds die wêreldrekord in die 100 m en 200 m.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Geluk die Bolts maar het julle al Suid Afrika se tienling gesien? Ek ook nie.

Piet ·

Bedoel jy dalk dat hulle so vinnig is dat jy hulle nie sien nie:-)

Gato ·

Ag nee regtig. Nou noem hy sy kinders Thunder en Lightning. Klink goed as n grap maar die arme kinders moet nou vir die res van hulle lewens ly onder sulke belaglike name.
Gedink di ou het meer klas.

JohanR ·

Jamie Oliver – 1. Poppy Honey Rosie Oliver 2. Petal Blosson Rainbow Oliver 3. Daisy Boo Pamela Oliver 4. River Rocket Blue Dallas Oliver 5. Buddy Bear Maurice Oliver

DIABLO ·

As ek nou so na die kinders se name luister, klink dit vir my of hy maar baie vol van homselwers is.

Belinda ·

lieflike foto. baie geluk. ek hoop dis nog twee super sport atlete! mag hulle julle baie geluk en vreugde bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.