Vaartopnemer van sinkende Sri Lankaanse skip gevind

Die skip se vaartopenemers is intussen gevind. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

Die vaartopnemer van ʼn skip, gelaai met chemikalieë en plastiek, wat besig is om aan die Sri Lankaanse kus te sink, is opgespoor.

Die vaartdataopnemers stel ondersoekers in staat om prosedures wat gevolg is en opdragte wat voor ʼn ongeluk gegee is, na te gaan.

Die Sri Lankaanse owerhede sê hulle hoop dit gaan meer besonderhede verskaf oor die skip se roete, asook sy kommunikasie met die hawe in die hoofstad Colombo, waarheen dit op pad was.

Indika de Silva, ʼn woordvoerder van die vloot, sê tegnici het die vaartopnemer van die brug herwin. Dié gedeelte van die skip is nog bo die waterlyn.

Die MV X-Press Pearl is in Singapoer geregistreer en sink sedert Woensdagaand stadigaan in die Indiese Oseaan nadat dit sowat twee weke lank binne sig van die kus gebrand het.

Die skip, met onder meer 25 ton salpetersuur aan boord, was op pad na Colombo vanaf Gujarat in Indië.

Volgens Sri Lankaanse amptenare het suur wat sedert 11 Mei begin uitlek het, tot die brand gelei. Hawens in Katar en Indië het geweier dat die lekkende salpetersuur daar afgelaai word.

Die polisie van die eilandnasie het reeds ʼn strafregtelike ondersoek van stapel gestuur en het onderhoude met die kaptein en hoofingenieurs – albei Russe – asook sy hoofoffisier, ʼn Indiese burger, gedoen. Daar is ook op hul paspoorte beslag gelê.

Die owerhede staal hulle intussen vir ʼn moontlike oliestorting nadat die agterstewe van die skip onder die water verdwyn het. Daar was tot dusver egter geen teken van enige lekplekke nie.

Tonne mikroplastiekkorrels afkomstig van die skip het tot sowat 80 km ver op die strand versprei. Die strand is as verbode vir inwoners verklaar, terwyl visvang in die gebied verbied is.

Sri Lankaanse omgewingsaktiviste het Vrydag die regering en die skip se operateurs gedagvaar omdat hulle glo versuim het om die “ergste seeramp” in die land se geskiedenis te verhoed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wat op dees Aarde ·

En so neuk die mens maar net verder die oseane op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.