Vaas in skoenboks verkoop toe vir sóveel miljoen

Foto: Sotheby’s

Die Franse gesin wat verlede maand gehoor het dat ʼn antieke porseleinvaas wat al vir jare in hul solder lê miljoene rand werd is, het dié vaas vandeesweek vir £14,2 miljoen (meer as R251 miljoen) laat opveil – nagenoeg £14 miljoen meer as die prys waarvoor die vaas deur ʼn afslaer in Parys gewaardeer is.

Die BBC berig dié vaas is Dinsdag by Sotheby’s-afslaers in Parys in ʼn 20 minuut lange veiling opgeveil – dieselfde afslaers wat die vaas in Meimaand teen minder as ʼn tiende van die veilingprys gewaardeer het.

Volgens die BBC is dit die hoogste prys wat ʼn enkele item nóg op ʼn Sotheby’s-veiling gehaal het.

Olivier Valmier, die afslaer se kunskenner, sê hy was verbaas toe ʼn lid van die gesin nonchalant met die vaas by sy deur ingestap kom; heeltemal onbewus van die waarde van die vaas.

Foto: Sotheby’s

“Hy het op die trein geklim, toe op die metro, en toe te voet na Sotheby’s tot in my kantoor geloop met die vaas in ʼn skoenboks en toegedraai in koerantpapier. Toe hy die boks op my tafel sit en ek dit oopmaak, was ons almal verstom oor die skoonheid daarvan. Dis ʼn groot kunswerk; dis byna asof ons ʼn Caravaggio [die Italiaanse skildenaar] ontdek het.”

Die Franse gesin was verlede maand besig om hul solder skoon te maak toe hulle op die porseleinvaas afgekom het wat uit die Qing-dinastie dateer. Die gesin het die vaas vir ʼn lang tydperk in ʼn skoenboks gebêre omdat hulle nie juis daarvan gehou het nie. Sotheby’s en Valmier het die vaas egter dadelik uitgeken as ʼn egte vaas van hoogstaande gehalte, en dit was volgens kenners ongeveer $600 000 (byna R7,5 miljoen) werd.

Die vaas is 30 cm hoog en soos ʼn gloeilamp gevorm. Die kunswerk beeld bokke, voëls en ander diere in die bosse uit. Dit is ʼn Yangcai-Famille-Rose-porseleinvaas met die merk van keiser Qianlong, wat tydens die mid- tot laat- agtiende eeu in China regeer het.

Sotheby’s mag nie naam van die verkopers of die kopers bekend maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

TDW ·

Ek wonder hoeveel is hierdie vaas van my werd, dit lyk antiek en ek het dit gekry in my garage, toegerol in koerantpapier… daar staan aan die onderkant dis gemaak deur ‘n mnr P.R. Ice. Ek is nou dadelik oppad Sothebys toe.

Vytjie ·

Ja, né…as ek op dit afgekom het, sou ek dit vir die huishulp gegee het…wys jou nou…

Pieter ·

Die Qing Dinastie dateer van 1644 tot 1912 (dit volg op die Ming Dinastie.)
Die vaas kan dus tussen 106 jaar en 374 jaar oud wees.

Paul ·

Ek sou graag wou weet hoe die vaas op hul solder beland het, het hulle die huis gekoop, soontoe getrek, het hulle die vaas geskenk gekry, wat ek twyfel, want hulle het nie juis van die vaas gehou nie.

Kom iemand, help! Ek brand van nuuskierigheid.

Kiepie ·

Gaan lees die vorige bering. Hulle vertel die hele storie daar.

Pieter ·

Volgens Antique Trades Gazette, dateer dit uit 1736 to 1795.
Die vaas is vir 14.2 miljoen Euro verkoop. Dit is “slegs” 12.5 Britse Pond.

Joev ·

Die naweek keer ek ons die huis om op sy dak! soek skoen bokse!

veer ·

Ek kom nou net uit die solder uit en ek is bevrees ek is nog net so arm soos voor ek daar in is.

Leah ·

Kan nie glo mens betaal so baie vir so ‘n lelike ding nie – dit terwyl miljoene mense sonder kos sit. Die lewe is onregverdig.

Pieter ·

Leah,

Shakespeare het gesê “beauty is in the eye of the beholder.” Dit is ‘n baie rare en besonderse vaas met baie geskiedkundige waarde.
My hart gaan uit na mense sonder kos, maar wat het dit te doen met die prys wat vir die vaas op die veiling betaal is? Ek stem saam, die lewe is nie regverdig nie, sommige mense woon in kastele en paleise terwyl ander nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Maar die prys van ‘n kunswerk gaan dit nie verander nie.

Blommie ·

Leah, ka nie help om saam met jou te stem nie.
Wat sou daardie geld net nie werd wees vir n land met groot nood nie.
Die meeste van die lande maak staat op insamelings deur mense, daai geld sou baie goeie dinge kon doen.
Eintlik hartseer dat mense meer waarde aan items heg as mense self.

Danie ·

‘n Land in groot nood het heel waarskynlik daarvoor gestem. Jy kan nie die heel tyd swak keuses maak en verwag iemand anders moet borg staan nie. Dit raak seker hoog tyd dat die wat trots daarvoor gestem het ook die gevolge moet begin dra.

Denise ·

Ai tog dit is hulle lelike vaas en dit het nou vir hulle n mooi ding gebring wat hulle nou kan geniet ek is bly vir hulle !!!!!

Denise ·

Dit is n baie gelukkige familie hoop hulle geniet hulle lelike vaas se geld!!!!!

S.A, Julle is snaaks ·

Ek lees nou die kommentaar en ek vind dat ons regtig mense in ons land het vir ‘n lekker sin vir humor. ek lag lekker en die het sommer my dag gemaak! S.A mense is eintlik baie snaaks !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.