‘Vader van tiramisu’ (93) sterf

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Lynda Kechiche)

Ado Campeol, wat as die “vader van tiramisu” deur die Italiaanse media gedoop is, het in die ouderdom van 93 gesterf.

Campeol was die eienaar van Le Beccherie, ʼn restaurant in Treviso in die noorde van Italië, waar die bekende nagereg deur sy vrou en ʼn sjef uitgedink is.

Dié dis, wat koekies wat in koffie gedoop en mascarpone-kaas bevat, is in 1972 by hulle spyskaart gevoeg, maar is nooit deur die familie gepatenteer nie.

Dit het sedertdien ʼn stapelvoedsel van die Italiaanse kookkuns geword en is deur sjefs wêreldwyd aangepas.

Daar is lank reeds geskille oor die oorsprong van tiramisu, en dit word ook beweer dat dit as ʼn afrodisiakum by ʼn bordeel in die noorde van die Italiaanse stad van Treviso gebruik is.

Dit word egter wyd aanvaar dat die resep deur Campeol se restaurant in die stad ontwikkel is.

Luca Zaia, goewerneur van die Veneto-streek, was onder diegene wat hulde aan Campeol gebring het.

“Ons het nog ʼn ster in die voedsel- en wyngeskiedenis verloor,” het Zaia op Twitter geskryf.

Le Beccherie is in 1939 deur Campeol se familie geopen en Campeol het aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog die leisels van die onderneming oorgeneem.

Volgens die nagereg se mede-uitvinder, sjef Roberto Linguanotto, was die dis die resultaat van ʼn glips terwyl hulle vanieljeroomys gemaak het.

Linguanotto het mascarpone-kaas in ʼn mengbak saam met eiers en suiker gevoeg en dit met kakao besprinkel en dit “tiramisu” genoem – wat losweg as ʼn “versterker” vertaal word.

Die dis het in 1981 vir die eerste keer in druk verskyn in ʼn uitgawe van Veneto, ʼn publikasie gewy aan kos en wyn, en is nou een van Italië se bekendste nageregte.

Variasies van tiramisu bevat alkohol soos rum of marsala, maar die oorspronklike resep, wat in 2010 deur die Italian Academy of Cuisine gesertifiseer is, was alkohol-vry aangesien dit bedoel was om kindervriendelik te wees.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jdb ·

Volgens die artikel was sy vrou die uitvinder van die gereg, nie hy nie?

Francois Le Cochon ·

Kleefband (sellotape) se ontdekking is ook agv ‘n glips deur 3M.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.