Vakbonde wil Frankryk tot stilstand dwing oor pensioenplanne

Betogers by Place de la Republique op 19 Januarie 2023 (Foto: Alain Jocard/AFP)

Vakbonde in Frankryk gaan Dinsdag met grootskaalse stakings poog om die land “tot ʼn stilstand te dwing” in sy stryd teen pres. Emmanuel Macron se pensioenhervormings.

Ná vyf afsonderlike dae van betogings tot dusver vanjaar lui vandeesweek se stakings ʼn nuwe fase in in die stryd tussen die gematigde regering en teenstanders van die veranderinge, wat ʼn oorweldigende meerderheid Franse kiesers insluit.

“Ons het altyd gesê ons sal na ʼn hoër rat oorbeweeg as dit moet,” het Philippe Martinez, hoof van die invloedryke linkse CGT-vakbond aan Journal du Dimanche-koerant Sondag gesê. “Dit sal Dinsdag die geval wees.”

Meer as 260 betogings word landswyd verwag, talle in klein en mediumgrootte dorpe waar teenkanting teen die hervorming baie sterk is. Die stakings sal vervoer, die energiebedryf en die staatsdiens raak.

Die polisie verwag dat tussen 1,1 miljoen en 1,4 miljoen die strate gaan invaar, het ʼn bron aan AFP gesê op voorwaarde van anonimiteit.

Dit kan moontlik groter wees as die 1,27 miljoen betogers op 31 Januarie, en die vorige betogings teen pensioenhervorming in 2010.

Vakbonde wat werkers by die nasionale SNCF-spoorwegdiens, die Parys-metro en die energiebedryf (insluitend raffinaderye) verteenwoordig, het vir die eerste keer onbepaalde stakings versoek en nog bedrywe sal na verwagting by hulle aansluit.

Al agt groot Franse vakbonde het stakings versoek om die land Dinsdag “tot ʼn stilstand te dwing”. Winkeliers gaan waarskynlik ook hul deure gesluit hou.

“Die 7de (Dinsdag) gaan baie moeilik wees,” het vervoerminister Clement Beaune Vrydag erken. Hy versoek werkers om, waar moontlik, by die huis te bly.

Pensioenhervormings

Macron se plan om die amptelike aftreeouderdom van 62 na 64 te verhoog is ʼn vlagskipbeleid van sy tweede ampstermyn. Dit het verlede jaar begin toe hy die verregse leier Marine Le Pen oorwin het.

Hy sê die verandering is “noodsaaklik” weens begrotingstekorte vir die stelsel oor die volgende 25 jaar, aldus die analise deur die onafhanklike pensioene-ombudsman.

Frankryk is ook agter sy bure en ander groot Europese ekonomieë waar die pensioenouderdom reeds na 65 of hoër aangepas is, gebaseer op ʼn langer lewensverwagting.

Teenstanders beskou egter die veranderinge as onregverdig, en dit penaliseer lae-vaardigheidswerkers wat vroeër met hul loopbane begin. Dit verminder die reg op ontspanning en ʼn lang aftrede aan die einde van ʼn werkslewe.

Arbeidsminister Olivier Dussopt het Saterdag in ʼn onderhoud volgehou dat 1,8 miljoen lae-inkomste afgetredenes egter sal sien dat hul pensioen van September maandeliks met tot €100 verhoog word indien die hervorming ingestel word.

“Dit sal hulle nie ryk maak nie, maar dit is ʼn beduidende poging wat nog nooit vantevore gedoen is nie, ondanks aankondigings al die afgelope 20 jaar,” het hy gesê.

Daar is egter nie meer baie tyd oor vir die vakbonde en ander teenstanders van die hervorming om die regering te dwing om ʼn U-draai te maak nie.

Die wetgewing is reeds in die laer huis- nasionale vergadering bespreek en word tans in die hoër huis-senaat gedebatteer. Dit sal na verwagting gewysig, maar goedgekeur word.

ʼn Finale stem van albei huise word teen die middel van Maart verwag en teen 26 Maart op die heel laatste.

Macron is in die verlede deur talle uitdagings in die gesig gestaar deur die vakbonde. Sonder uitsondering was hy egter suksesvol met sy pro-sake-agenda en hervorming vir maatskaplike sekerheid.

Die voormalige beleggingsbankier, wat gereeld daarvan beskuldig word dat hy buite voeling is en afsydig voorkom, het eerste minister Elizabeth Borne opdrag gegee om die gesig te wees van die pensioenhervorming en om onderhandelinge met opposisiepartye en vakbondleiers te lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

… die reg op ontspanning en ‘n lang aftrede… Net twee jaar langer… En hier bid en droom mense vir werk. Wat ‘n spul bedorwe brokkies. Wat doen die afgetredenes daar tydens hul lang loslitjare ná aftrede. Sit en kyk tv?

Republikein in die Wes Kaap ·

Bloukraagwerkers daar begin op 16 werk in plekke soos dokke en rangeerterreine. Op 50 is daai lywe voos gewerk. Gun hulle ‘n paar ekstra rustige jare om TV te kyk. Hulle het ‘n bydra gelewer om die Franse ekonomie op die kaart te plaas en base skatryk te maak.

annie ·

Nie alle Franse begin hul lewe op die dokke nie. Daar is darem universiteite soos in Afrika. Die adelstand is daar geskep. Miskien is jy tog reg, dan is die Franse Hugenote wat hier afgepak het maar van swak stoffasie.

Jacques ·

Wat ek nie van Franse kan verstaan nie, is dat hulle aanmekaar die regerings verkies teen wie hulle so aanmekaar betoog. Hulle is net soos ANC ondersteuners. Wat gaan dit vat om Le Pen as leier te verkies? Hulle moet maar vir hulle kry.

De Bok ·

Frankryk se bevolking is ook besig om te verouder soos die res van die Weste. Aanpassings aan die pensioen sisteem sal gemaak moet word om dit volhoubaar te hou, anders kry niemand pensioen nie.

Amelia ·

Suid Afrika pensioen goue besluit in verkeerde hande Wat kry jy in elk geval as daar bv 30% vir belasting moet gaan die belasting is na regte reeds betaal van jou salaris af Is dit dalk hoekom hul nie op daardie ouderdom wil aftree nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.