Met Julie amper op sy rug en ’n paar groot aardbewings wat “stil-stil” die afgelope paar dae voorgekom het, is 2015 op koers om een van die jare te wees wat die meeste aardbewings met ’n telling van 7 op die momentmagnitudeskaal kan oplewer.
Daar was vanjaar reeds 11 sulke aardbewings, terwyl die jaar wat sedert 2002 gekenmerk is deur die meeste groot aardbewings, naamlik 2010, altesaam 21 groot aardbewings opgelewer het.
Dit is geen aanduiding van hoë sterftesyfers nie, hoewel vanjaar weens die twee grotes in Nepal wel ook onder die dodelikstes sal tel. Die meeste groot aardbewings was egter ver van bewoonde gebiede af, en geen beduidende tsunami is veroorsaak nie.
Die sterkste aardbewing – die grote in Nepal, het M 7,8 (volgens sommige bronne M 7,9) gemeet, en dus het vanjaar nog geen aardbewing van M 8 of meer opgelewer nie. Verlede jaar, met altesaam 13 aardbewings van M 7 of meer, was daar een wat M 8,2 gemeet het, en die vorige jaar twee van M 8 of meer (met ’n totaal van 18 van M 7 of meer).
So lyk die statistieke vir aardbewings van M 7 of meer sedert 2002:
Jaar | Aantal |
2002 | 12 |
2003 | 14 |
2004 | 12 |
2005 | 10 |
2006 | 10 |
2007 | 17 |
2008 | 12 |
2009 | 16 |
2010 | 21 |
2011 | 19 |
2012 | 14 |
2013 | 18 |
2014 | 13 |
Lyk vir my dit word elke jaar net erger en erger.