Vark se hart suksesvol in man oorgeplant  

Die “geskiedkundige” operasie het Vrydag plaasgevind (Foto: Amerikaanse Universiteit van Maryland se mediese skool/AFP)

Die hart van ʼn geneties gemodifiseerde vark is suksesvol in ʼn 57-jarige man oorgeplant.

Die “geskiedkundige” operasie het Vrydag plaasgevind, het die Amerikaanse Universiteit van Maryland se mediese skool Maandag in ʼn verklaring gesê. Terwyl die pasiënt se prognose ver van seker is, verteenwoordig dit ʼn groot mylpaal vir dier-tot-mens-oorplanting.

Die pasiënt, David Bennett, is nie geskik vir menslike oorplanting nie – ʼn besluit wat dikwels geneem word wanneer die ontvanger se onderliggende gesondheid swak is.

Hy herstel nou en word noukeurig gemonitor om te bepaal hoe die nuwe orgaan presteer.

“Dit was óf sterf óf hierdie oorplanting. Ek wil lewe. Ek weet dit is ʼn skoot in die donker, maar dit is my laaste uitweg,” het dié Maryland-inwoner ʼn dag voor die operasie gesê.

Bennett, wat die afgelope paar maande bedlêend en gekoppel was aan ʼn masjien wat hom aan die lewe gehou het, het bygevoeg: “Ek sien uit daarna om uit die bed uit op te staan nadat ek herstel het.”

Die VSA se medisyneowerheid, die FDA, het noodmagtiging vir die operasie op Oujaarsaand verleen, “as ʼn laaste poging vir ʼn pasiënt wat nie geskik was vir konvensionele oorplanting nie”.

“Dit was ʼn deurbraakoperasie en bring ons een stap nader aan die oplossing van die orgaantekortkrisis,” sê Bartley Griffith, die chirurg wat die varkhart oorgeplant het.

“Ons gaan versigtig voort, maar ons is ook optimisties dat hierdie operasie, ʼn eerste ter wêreld, ʼn belangrike nuwe opsie vir pasiënte in die toekoms sal bied.”

Muhammad Mohiuddin, medestigter van die universiteit se kardiale xeno-oorplantingsprogram, het bygevoeg die operasie was die hoogtepunt van jare se navorsing, wat vark-tot-bobbejaan-oorplantings behels het, en met oorlewingstye wat nege maande oorskry het.

“Die suksesvolle operasie het waardevolle inligting verskaf om die mediese gemeenskap te help om hierdie potensieel lewensreddende metode in toekomstige pasiënte te verbeter,” het hy gesê.

Die vark waarvan die hart gebruik is, het aan ʼn trop behoort wat genetiese redigeringsprosedures ondergaan het.

Drie gene wat tot verwerping van varkorgane deur mense sou gelei het, is uitgeskakel asook ʼn geen wat tot oormatige groei van varkhartweefsel sou gelei het.

Ses menslike gene wat verantwoordelik is vir menslike aanvaarding is in die genoom ingevoeg, vir ʼn totaal van tien unieke geenwysigings.

Varkhartkleppe word reeds wyd by mense gebruik, en varkvel word op menslike brandslagoffers oorgeplant.

Varke maak die ideale skenkers vanweë hul grootte, hul vinnige groei en groot werpsels, en die feit dat hulle reeds as ʼn voedselbron grootgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

N ·

Wel gedaan. Maar glo nie meer die ou gaan n stukkie spek geniet soos in die ou dae nie.

Witwax ·

Hulle se geld kanie alles koop, maar ek dink in die toekoms gaan jy gesondheid kan koop en self lewe.

Anel ·

Ek glo nie hulle kan spog met die eerste varkhartoorplanting op ‘n mens nie. Die eerste een was defnitief hier gedoen wst toe aanleiding gegee het tot die eers suksesvolle mensehart oorplanting. Dat hulle pasiëntdie langste lewe, dit is waar. Ek is nie seker hoe lank die persoon hier gelewe het nie, maar die oorpantng was daardie tyd ‘n sukses. Om nie afbreuk te maak aan die artikel nie, sal die operasie baie hoop vir baie mense bring.

piet ·

Nee, allerhande oorplantings is reeds voorheen in Amerika gedoen. Die eerste hartoorplantings was in Amerika maar dit was nie suksesvol nie (in die sin van dat die pasient noemenswaardig na die tyd geleef het nie. Prof. Barnard was juis vir ‘n hele ruk in Amerika (in die 1950’s) om onder die toesig en leiding van Amerika se pionier ope-hartsjirurg (Walt Lillehei) te leer VOOR hy die eerste suksesvolle mens-tot-mens oorplanting hier in SA gedoen het in die sestige jare. Barnard was dus ‘n goeie leerling en het dit reggekry om eerste suksesvol te wees met betrekking tot hartoorplanting van een mens na ‘n ander mens. Voor dit is daar al vir jare geeksperimenteer.

RS ·

Wel gedaan aan mense wat n poging aanbied om ander n beter lewe te bied.
Met respek gese en nie om n bespotting te maak nie… kan ek nie help om aan n onlangse reeks op Netflix te dink nie. Sweettooth… as dinge soos ebola en corona kan hand uit ruk… is daar dalk n vergesogte moontlikheid dat hierdie dinge ook so n pad kan stap?
Hierdie is bloot n klip in die water gooi en iets om oor te dink.

A ·

“Varke maak die ideale skenkers vanweë hul grootte, hul vinnige groei en groot werpsels, en die feit dat hulle reeds as ʼn voedselbron grootgemaak word.”

Moenie vergeet van van die ‘motivering’ aspek nie. Die chirurge weet as hulle vinnig werk en die oorplanting suksesvol is, dat ‘n lekker spitbraai vir hulle wag.

tweeling ·

Daar is medikasie vir sooibrand, nie alle mense is daar om die samelewing uit te buit nie.

Cindy ·

yuk.. Ek nou lekker gelag so tussen die naar word aspek deur (ek persoonlik sal nie daai geneties gemodifeerde vleisie wil spit nie LOL)

Aai ·

Well done maar weet nie of sekere gelowe dit gaan toelaat en die man dalk laat vermoor nie slim om sy naam uit te gee.

Jaco ·

Moslem Dr plant ‘n onrein vark se hart oor op ‘n nie-Moslem. Vreemde wêreld…

Martin ·

Nou het hy darem ‘n verskoning as hy hom dalk soos ‘n vark gedra…. :)

Vlekkie ·

Jy sien! Vark se organe is naaste aan menslike organe. Ons moet eintlik nie vark eet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.