Varknier suksesvol op mens oorgeplant

’n Mediese span van die VSA het ’n varknier suksesvol op ’n mens oorgeplant. (Foto: Joe Carrota / AFP)

’n Mediese span van die VSA het ’n varknier suksesvol op ’n mens oorgeplant. Dié nier het al die korrekte funksies verrig deur gifstowwe uit te skei en urine te produseer.

Dié operasie, die eerste van sy soort, is op 25 September met vooraftoestemming op ’n pasiënt wat breindood verklaar en aan ʼn ventilator gekoppel is, uitgevoer.

Die operasie het deel van ʼn twee dag lange wetenskaplike eksperiment gevorm.

Die skenkervark behoort aan ’n trop wat ’n genetiese bewerkingsprosedure ondergaan het om ’n geen wat ʼn spesifieke soort suiker produseer uit te skakel. Dié soort suiker sou andersins ’n sterk immuunreaksie veroorsaak wat tot orgaanverwerping sou lei.

Chirurge het die oorplanting intussen as ʼn “deurbraak” en “potensiële wonderwerk” bestempel.

“Die nier het gedoen wat dit veronderstel was om te doen,” het Robert Montgomery, direkteur van die oorplantingsinstituut by die New York-universiteit, gesê.

“Die orgaan was in staat om die pasiënt se verhoogde vlak van molekulêre kreatinien te verminder. Dit is ʼn belangrike aanduiding van die gesondheid van die niere.”

Die nier is tydens die operasie aan bloedvate bo-op die pasiënt se been geheg sodat die mediese span die nierfunksie kon waarneem en biopsies kon doen.

Die varknier het al die korrekte funksies verrig deur gifstowwe uit te skei en urine te produseer. (Foto: Joe Carrota / AFP)

Die pasiënt is ná die eksperiment van die lewensondersteuningstoestelle ontkoppel en is kort daarna dood.

“Die pasiënt se geliefdes was aanvanklik teleurgesteld aangesien hul geliefde ʼn orgaanskenker wou wees, maar weens omstandighede nie kon nie.

“Hulle het ʼn mate van verligting ervaar dat hul geliefde op ʼn ander manier ʼn bydrae kon lewer,” sê Montgomery.

Volgens Montgomery sal die bevindings in ʼn wetenskaplike vaktydskrif gepubliseer word en sal ander kliniese proewe binnekort plaasvind.

Vroeëre navorsing het getoon dat varkniere tot ʼn jaar lank lewensvatbaar is in niemenslike primate. AFP berig dit is egter die eerste keer dat dit op ʼn mens op die proef gestel is.

Die nuus kom te midde ʼn groot tekort aan oorplantingsorgane.

Luidens statistieke wag sowat 107 000 Amerikaners jaarliks op organe, waarvan 90 000 ʼn nier benodig.

Minstens 17 Amerikaners sterf elke dag terwyl hulle op ʼn orgaan wag. Die suksesvolle oorplanting was vir Montgomery ook ʼn persoonlike mylpaal aangesien hyself twee jaar gelede ʼn hartoorplanting ontvang het.

In 1984 is ʼn bobbejaanhart in ʼn pasgebore baba bekend as Baby Fae oorgeplant, maar sy het slegs 20 dae oorleef.

Vandag is die gebruik van varkhartkleppe vir mense ʼn algemene verskynsel terwyl varkvel dikwels in veroorplantings van brandslagoffers gebruik word.

Varke maak ideale skenkers vanweë hul grootte, vinnige groei, groot werpsels en die feit dat hulle reeds as voedselbron grootgemaak word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dis nogal indrukwekkend! Net toe ek dink megici het geen geloofwaardigheid meer nie.

Bushy ·

Varkorgaan oorplantings, wonderlik, Solank die toekomstige ontvangers hulself nie soos varke gaan gedra nie.

Miskruier ·

Sou die Jode en Muslims ten gunste van so orgaan wees??

NuusUil ·

Ek twyfel . Dink ook een van die gelowe mag nie bloedoortappings ontvang en so ook nie ander organe nie. Maar jy het my nou aan die navors gesit . Gaan biekie oplees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.