‘Veel meer’ dalk dood in Guinee-ontploffings

‘n Satellietfoto van die Nkoa Ntoma-weermagbasis voor en ná die ontploffings. (Foto: AFP PHOTO / Satellite image ©2021 Maxar Technologies) 

Human Rights Watch (HRW) meen die reeks ontploffings by ʼn weermagbasis in Ekwatoriaal-Guinee het “veel meer” lewens geëis as die amptelike dodetal van 105.

Die menseregteorganisasie versoek nou dat ʼn onafhanklike ondersoek na die ramp gelas word.

Die staatsbeheerde televisienuusdiens het berig 105 mense is dood en 615 beseer ná vier ontploffings by die Nkoa Ntoma-weermagbasis aan die buitewyke van Bata, ʼn hawestad in die land.

HRW meen egter “op grond van die aantal liggame wat uit die puin gehaal is”, moet die werklike aantal slagoffers baie hoër wees.

Die menseregteorganisasie moedig skenkers en hulpgroepe aan om enige steun direk aan slagoffers en hul gesinne te verleen, eerder as om deur die regering te werk, “gegewe die hoë korrupsievlakke in Ekwatoriaal-Guinee”.

Maroela Media het vroeër berig die ontploffings het Sondag geboue op die basis en talle huise in die woonbuurte rondom die kamp in puin gelê.

Pres. Teodoro Obiang Nguema Mbasogo, wat dié klein land in sentraal-Afrika al 42 jaar lank regeer, het Sondagaand gesê die regering sal ondersoek instel. Die president het die skuld vir die voorval gepak op plaaslike boere wat stompe gebrand het, asook op “nalatige” toesig by die kamp se krygsdepot.

HRW sê daar word egter nou beweer dat soldate stompe gebrand het en dat dit na die krygsdepot versprei het. Daar is ook bewerings dat die brand ontstaan het tydens opleiding oor die gebruik van plofstof.

“Ongeag wat die ontploffing veroorsaak het, verdien Ekwatoriaal-Guinee om te weet waarom die weermag springstof in die middel van ʼn bevolkte gebied stoor,” sê Sarah Saadoun, ʼn ondersoeker by HRW.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

om so na die fotos te kyk, vergelyk dit na ‘n hele paar ton tnt wat tot niet gegaan het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.