Veghond val vrou in hysbak aan

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

WAARSKUWING: Die inhoud van dié berig kan sensitiewe lesers ontstel. 

Grusame beeldmateriaal wys hoe ʼn vrou deur ʼn veghond, oftewel pitbull, in ʼn hysbak in Colombië aangeval word terwyl sy van die dier probeer ontsnap.

Ondanks haar pogings het die hond nie laat los nie en kan daar gesien word hoe die hond haar uit die hysbak sleep, wanneer die deure op die eerste verdieping van die woonstelgebou in Cúcuta oopskuif.

In die video, wat op kringtelevisie vasgevang is, kan gesien word hoe die vrou op die vloer rondwriemel en agteruit in die hysbak kruip terwyl die hond haar aanval. Luidens berigte het die vrou vanaf haar woonstel op die vyfde verdieping gekruip – terwyl die hond haar aanval – om hulp op ʼn ander verdieping te soek. Die hond behoort aan haar woonstelmaat.

In die video probeer die vrou om die hond weg te stoot terwyl die dier dele van haar arms byt. Sy slaag eindelik daarin om met een hand die hysbakknoppies te druk.

Wanneer die hysbakdeure oopgaan, gryp die veghond weer na haar en sleep haar uit die hysbak.

Skermskoot uit die video.

Volgens die plaaslike nuusagentskap La Opinion het dié voorval voorverlede week plaasgevind nadat die 25-jarige vrou by haar woonstel aangekom het. Sy deel die woonstel, wat op die vyfde verdieping is, met drie ander mense en die hond.

Die vrou was na bewering in haar woonstel besig om haar skoene vas te maak toe die hond haar begin aanval het.

“Haar eerste reaksie was om na die deur te kruip en in die gang uit te vlug, in die hoop dat ʼn buurman haar sou help,” het ʼn bron aan die nuusagentskap gesê.

“Toe die dier op haar gespring het, het sy gedink niemand sal haar kan help as sy op die vyfde verdieping is nie. Dus het sy daar probeer wegkom.”

Toe die slagoffer by die eerste verdieping gekom het, is sy deur wagte by die woonstelgebou en ʼn familielid gehelp, berig Times Now.

Sy is na die Erasmo Meoz-universiteitshospitaal geneem waar sy vir ernstige beserings, veral aan haar vingers, behandel is.

“Sy het frakture in twee vingers aan haar regterhand en nog frakture aan haar linkerhand opgedoen,” het ʼn polisiewoordvoerder gesê.

“Die slagoffer is steeds in die hospitaal.”

Volgens die nuusagentskap Pulzo moes die hond luidens die betrokke wet ʼn muilband in gemeenskaplike gebiede van wooneenhede gedra het.

Sommige inwoners het egter aan La Opinion gesê dat die hond nooit teenoor enigiemand aggressief was nie. Die eienaars het ook altyd gesorg dat die hond sy muilband aanhet voordat hulle gaan stap het.

Die vierjarige hond is ná die voorval deur plaaslike owerhede gevang en is steeds in aanhouding totdat ʼn gedragsontleding afgehandel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

23 Kommentare

jongste oudste gewildste
Douglas

Altyd pitbulls wat betrokke is.

Dries

Maar die pitbull eienaars hou vol dat dit n veilige hond is. Daar behoort n wet teen die aanhou van pitbulls te wees

Renier

Jy hou nie n groot hond,enige groot hond, in n woonstel aan nie.

Misky

Altyd die liefdevolste hond volgens hul eienaar, tot op ‘n dag en dan……? Nee dankie, nie vir my nie.

Oujongvrou

Geen hond sal jou aanval omdat hy lus is nie. Mense moet opgevoed word om diere te respekteer. Te veel het ek al gesien hoe mense vieslik is met honde en dan verwag hulle die hond moet mal wees oor hulle. En oordat die hond nie kan praat en homself verdedig is hulle dadelik die skuldiges