Veiligheidshoof vas ná Haïti-president se sluipmoord

Die oorlede president van Haïti, Jovenel Moise. (Foto: Alex Wong/Getty Images/AFP)

Owerhede in Haïti het bevestig dat die veiligheidshoof van dié land Maandag in hegtenis geneem is as deel van die voortslepende ondersoek na die sluipmoord op pres. Jovenel Moïse wat op 7 Julie plaasgevind het.

Die veiligheidshoof, Jean Laguel Civil, word daarvan verdink dat hy betrokke was by die komplot waartydens Moïse (53) in die middel van die nag deur ʼn groep gewapende mans in sy huis vermoor is. Hy is sowat 12 keer in die kop, bors, heup en buik geskiet. Moïse se vrou is ook tydens die aanval beseer.

Volgens die polisie is die omstandighede rakende die moord steeds onduidelik. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

Premier Ariel Henry het belowe om Moïse se moordenaars aan die pen te laat ry.

Civil is reeds in aanhouding in Delmas, naby Port-au-Prince, en in afsondering geplaas.

Me Bedford Ford, kommissaris van Port-au-Prince, het immigrasie-owerhede reeds beveel om vier polisiebeamptes, wat verantwoordelik was vir Moïse se veiligheid, te verbied om die land te verlaat.

Die polisie het Maandag ook ʼn lasbrief uitgereik vir Wendell Coq Thelot, ʼn regter van die hoogste hof in die land wat deur Moïse afgedank is.

Die polisie het reeds sowat 20 Colombiaanse huursoldate in verband met Moïse se sluipmoord in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig ʼn kommandogroep van 28 lede was glo by Moïse se sluipmoord betrokke. Altesaam 26 van dié lede is glo oudsoldate van Colombia en die ander twee is Amerikaners.

ʼn Reusesoektog na die lede van die groep is intussen van stapel gestuur.

Moïse is Vrydag ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Het verneem dat hy vermoor is omdat hy geweier het dat Haïti Covid entstof ontvang/aankoop. Tanzanië se president wat anti Covid was het ook gesterf, alhoewel minder geweldadig, en nou voer Tanzanië Covid entstof in. Daar is meer agter Covid as wat jy dink. Veral omdat die entstof ook grafeen bevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.