Veldbrand woed voort in Griekeland

Mavrolimni, 90 km wes van Athene (22 Mei 2021) (Foto: Yorgos Kontarinis/Eurokinissi/AFP)

Honderde brandbestryders is Saterdag steeds op die toneel om Griekeland se eerste groot veldbrand vir die somer onder beheer te bring. Kenners het waarskuwings uitgereik oor ʼn “yslike ekologiese ramp” in die natuurbewaringsgebied naby Athene.

Die brand het Woensdag in die Geraneia-berge uitgebreek, sowat 90 km wes van die hoofstad. Dit word beskryf as “een van die grootstes die afgelope 20 tot 30 jaar” en vind vroeg in die seisoen plaas, het Stefanos Kolokouris, hoof van die brandweer, aan ANT1-televisie gesê.

Hy het gesê beter weerstoestande het brandbestryders Vrydag laat die kans gebied om ʼn groot deel van die brand onder beheer te bring, maar daar is steeds “verskeie aktiewe en verspreide brande”.

Meer as 270 brandbestryders, 16 vliegtuie en die weermag is besig om die brande te bestry.

Geen beserings is aangemeld nie, maar verskeie huise is beskadig of verwoes. Talle dorpe is ontruim.

Die omvang van die skade, veral vir boere, sal eers bekend wees sodra die brand heeltemal onder beheer is, het die burgerlike beskermingsagentskap gesê.

Kenners en verenigings wat in Griekse media aangehaal is, het egter gewaarsku oor ʼn “ekologiese ramp op ʼn yslike skaal”. Sowat 54% van die digte en beskermde dennewoude het gebrand, het die Avghi berig. Sowat 6,1% van die bergreeks is deel van die Europese Unie se Natura 2000-netwerk van natuurbewaringspersele.

Euthymios Lekkas, professor van omgewingsrampbestuur aan die Universiteit van Athene, het gesê die brande het meer as 55 km² van die dennewoude verwoes asook ander grond, waaronder landbougrond. “Dit is ʼn yslike ekologiese ramp en werk gaan gedoen moet word om modderstortings en vloede in die herfs te vermy,” het hy aan die staatsuitsaaier ERT gesê.

Die burgerlike beskermingsagentskap het gesê die brand het naby Schinos uitgebreek langs die vakansieoord Loutraki – vermoedelik deur iemand wat plante in ʼn olyfboord gebrand het.

Reddingsverenigings poog om beseerde diere te help – hetsy hulle gebrand of gedehidreer het weens die brande. Hulle verskaf kos, water en noodhulp. Een organisasie, Caesar’s Paradise, het gesê voëls, skilpaaie, krimpvarkies en wildevarke asook honde en katte is dood aangetref weens die rook en vlamme.

Die Griekse nieregeringsorganisasie Anima het gesê hy is veral bekommerd omdat die brand “in die lente uitgebreek het – wanneer diere kleintjies kry”.

Die WWF het ʼn petisie van stapel gestuur en doen ʼn beroep op die regering om voorkomingsmaatreëls teen veldbrande “in ʼn ernstige lig te beskou”.

Griekeland word elke somer deur veldbrande geteister. Dit word aangevuur deur droë weer, sterk wind en temperature van hoër as 30°C. Die oorsake strek van natuurlik of krimineel tot nalatigheid. Minstens 102 persone is in 2018 dood by die vakansieoord Mati, naby Athene, in Griekeland se ergste brandramp ooit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.