Veldbrand woed voort in Sydney

Rookwolke by Wattle Grove in die suidweste van Sydney (Foto; ABC News: Avani Dias)

ʼn Veldbrand in die suidweste van Sydney duur Maandag voort en het na beraming reeds meer as 2 400 hektaar afgebrand.

Honderde brandbestryders het deurnag gewerk om huise in die gebied te beskerm. Hulle bly op hoë gereedheid, aangesien hoë temperature en sterk wind vir later in die dag verwag word, het die Rural Fire Service gesê.

“Ek kan nie glo dat ons nog nie enige huise in die brand verloor het nie,” het Shane Fitzsimmons, kommissaris van die brandweer, Maandag gesê. “Meer as 500 brandbestryders het gister gewerk maar ons het dit oornag na 250 brandbestryders verminder wat nog op die grond werk,” het hy aan Channel Seven gesê.

Die brand het Saterdagmiddag uitgebreek en is deur sterk winde aangevuur. Talle inwoners is ontruim, maar sommige het besluit om te bly en eerder te verhoed dat brandende stukke plantmateriaal hul huise tref, aldus die Australiese uitsaaier ABC.

Die brand is Maandagoggend afgegradeer, maar beamptes is steeds besorg oor sterk winde.

Die polisie hanteer die brand as “verdag” en stel ondersoek in om te bepaal of dit moedswillig gestig is. ʼn Persoon wat skuldig bevind word dat hy ʼn veldbrand doelbewus gestig het om eiendom beskadig of lewens te neem, kan tot 25 jaar tronkstraf gevonnis word. ʼn Persoon wat skuldig bevind word dat hy per ongeluk ʼn veldbrand begin het, kan tot 12 maande tronkstraf gevonnis word.

“[Die veldbrand] is baie verdag, omdat daar nie enige ander oorsaak soos weerlig was nie. Ons sê altyd, niemand duld dit in hierdie gemeenskap nie,” het Fitzsimmons bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.