Veldbrande woed steeds voort in Australië

Veldbrande in East Gippsland, Victoria (30 Desember 2019) (Foto: State Government of Victoria via AP)

Australië het Woensdag militêre skepe en vliegtuie ontplooi om gemeenskappe by te staan wat deur verwoestende veldbrande geteister word. Duisende inwoners en vakansiegangers het na die kuslyn gevlug.

Die skepe en vliegtuie lewer water, kos en brandstof af in dorpe waar voorraad uitgeput is en paaie weens die veldbrande afgesny is. Sewe persone het sedert Maandag gesterf weens veldbrande in New South Wales en Victoria.

Minstens 4 000 persone het Dinsdagoggend in die kusdorp Mallacoota na die kuslyn gevlug toe die wind ʼn veldbrand in die rigting van hul huise gedruk het. Gestrande inwoners en vakansiegangers het in hul motors en by vulstasies geslaap. Brandplankryer-klubs is in ontruimingsgebiede omskep. Talle huise is verwoes voor die wind laat Dinsdag van rigting verander en die res van die dorp gespaar gelaat het.

Andrew Crisp, nooddienskommissaris in Victoria, het aan verslaggewers gesê die Australiese Weermag het van sy vlootbates na Mallacoota ontplooi vir ʼn reddingspoging wat minstens twee weke lank sal duur. Helikopters is ook gebruik om nog brandbestryders te ontplooi, aangesien paaie onbegaanbaar is.

Vier persone word nog vermis.

Meer as 100 brande woed steeds voort in New South Wales, alhoewel nie een van die brande op ʼn noodvlak is nie.

Owerhede het gesê vanjaar se brandseisoen is die ergste ooit. Minstens 5 miljoen hektaar grond is die afgelope paar maande landswyd in die brande verwoes.

Minstens 15 persone is reeds dood en meer as 1 000 huise verwoes.

Lugbesoedeling weens die rookwolke kan moontlik daartoe lei dat die derde toets tussen Australië en Nieu-Seeland Vrydag gekanselleer kan word. Die besluit berus by die skeidsregter Richie Richardson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.