Venesië onder water; ‘stad is op sy knieë’

‘n Man vee water uit ‘n winkeltjie in Venesië. Tot 85% van die stad is oorstroom. (Foto: Luca Bruno/AP)

Die burgemeester van Venesië pak die skuld vir oorstromings in dié geskiedkundige kanaalstad op klimaatsverandering.

Vloedvlakke in die stad staan op die tweede hoogste vlak wat nóg aangeteken is.

Die hoogwatermerk het Dinsdagmiddag laat op 187cm gestaan, wat beteken soveel as 85% van die stad is oorstroom. Die hoogste vlak wat nóg opgeteken is, was 194cm tydens die berugte vloed van 1966.

ʼn Man in sy 70’s is op die eiland Pellestrina dood, vermoedelik weens ʼn elektriese skok, het Danny Carella, ʼn amptenaar van dié eiland met sy 3 500 inwoners, gesê. Hy het gesê weens stukkende pompe staan die water steeds sowat ʼn meter diep.

Veerbote, taxibote en gondelbote het op voetpaadjies langs kanale in Venesië gelê. Minstens 60 bote is in die oorstromings beskadig.

Die wêreldberoemde St. Markus-basilika is oorstroom en daar is hernieude kommer oor die skade wat aan mosaïek- en ander kunswerke aangerig kan word. Die elektrisiteit by die La Fenice-teater is afgeskakel nadat die diensgebied oorstroom is. Brandbestryders moes ook spook om ʼn brand in die Ca’ Pesaro- moderne kunsmuseum te blus ná ʼn kortsluiting.

‘n Winkelier sleep sy ware op ‘n waentjie deur die hoogwater. (Foto: Luca Bruno/AP))

ʼn Tweede sarsie vloedwater het die stad Woensdag getref, hoewel die water reeds besig was om te sak.

“Venesië is op sy knieë,” het Luigi Brugnaro, Venesië se burgemeester, gesê. “Soos die hele stad en sy eilande is die St. Markus-basilika ernstig beskadig.”

Die hoof van die Venesiese hotelvereniging het gesê die skade is enorm. Talle hotelle sit sonder krag en het nie pompe om die water te verwyder nie. Toeriste op grondvloere moes na boonste verdiepings geskuif word,” het Claudio Scarpa, die vereniging se hoof, aan ANSA gesê.

Brugnaro het klimaatsverandering die skuld vir die “dramatiese situasie” gegee en gevra vir die spoedige afhandeling van ʼn lank vertraagde projek om versperrings in die see op te rig.

Dié beweegbare versperrings, wat “Moses” genoem word, moet oorstromings in die stad beperk. Oorstromings word grootliks veroorsaak deur suidelike winde wat die gety in Venesië instoot. Die omstrede Moses-projek kry egter groot teenkanting van omgewingsaktiviste wat bekommerd is oor moontlike skade wat daardeur aan die gevoelige strandmeer-ekostelselsel aangerig kan word. Die projek is ook reeds veel, veel duurder as waarvoor aanvanklik begroot is en word deur korrupsieskandale geteister. Geen datum om dit in werking te stel is boonop al in sig nie.

Luca Zaia, goewerneur van die Veneto-streek, het egter aan SkyTG24 gesê die versperrings is amper klaar, maar dit is onduidelik of dit enigsins gaan help teen oorstromings soos dié.

“Al lê vyf miljoen euro onder water, is die St. Markus-plein nog lank nie veilig nie,” het Zaia gesê met verwysing na een van die laerliggende gedeeltes van die stad. In dié gebied lê die water sowat 80cm diep.

Brugnaro het gesê die vloedvlakke is tekenend van ʼn “wond wat onuitwisbare letsels gaan laat”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Fransie ·

Baie erg en dan moet ons nog oormore, 15 Nov 2019 soontoe vlieg vir my man se verjaarsdag. Ag neeeeeee

Griet ·

Ooooo… liewe genade Fransie! BAIE STERKTE vir julle, shame…

Vranet? ·

Dis nou fyn “brag”. Ek sal in jou plek gaan as dit vir jou so ‘n probleem is????

Kiskar ·

Wil vir my voorkom asof klimaatsverandering erger was in 1966 as nou :-)

Gerhard ·

Ha ha ja nee ek wou dieselfde sê. Klomp propaganda snert

Stormjaers ·

Dit is n baie mooi stad en is gereeld onder water. Dit het niks met klimaatsverandering te doen nie.

Duiwelsadvokaat ·

Die probleem kom nie van die see af nie….die nuwe duur vloedhekke gaan geen verskil maak nie. Die water kom van die omliggende heuwels rondom Venisië af, en loop dan in die meer in.

Fransie ·

Dankie Griet vir jou mooi woorde. Vranet? En Vier – nee, nie brag nie, net lank gespaar en uitgesien daarna, en baie water verander dinge nou net n bietjie, maar ons gaan dit nog steeds baie geniet, en nee ons gaan nie lank nie, net 4 dae, so gun dit asb vir ons, dankie.

wielie ·

As klein dogtertjie het ek gehoor dat Veniesie gaan verdwyn onder water in die vere toekoms.

Phumba ·

Hulle kan maar enige oortollige water aanstuur, ons landbou sal dit doeltreffend kan gebruik.

Attie. ·

Kom koop eiendom in die Hoeveld van Transvaal. Die erwe sal binnekort almal seeuitsig geniet. Sommige sal aan die strand front.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.