Verbied hoenderinvoere uit Brasilië, sê FairPlay

Argieffoto (Foto: PublicDomainPictures/Pixabay)

Die organisasie FairPlay het die vervolging van 11 voormalige werkers van die Brasiliaanse hoenderverwerker BRF SA verwelkom en weereens ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om sy veiligheidsregulasies oor Brasiliaanse bees- en hoendervleis te verskerp.

Die FairPlay-beweging beywer hom vir die beëindiging van sogenaamde roofsugtige handelspraktyke tussen lande.

Reuters het vroeër berig BRF SA, die wêreld se grootste hoenderuitvoerder, word strafregtelik ondersoek omdat veiligheidstoetse glo omseil is. Altesaam 11 oudwerkers, onder wie twee voormalige adjunkpresidente vir gehaltebeheer, is nou formeel aangekla in verband met dié skandaal.

Die aanklagte hou verband met bewyse dat dokumente en etikette tussen 2012 en 2018 vervals is, asook dat bestanddele in die dierevoer nie akkuraat aangedui is nie. Hulle word ook beskuldig dat verbode bestanddele ingesluit is en dat wanvoorstellings aan reguleerders gemaak is oor sekere van die bestanddele wat gebruik is om die voer mee te maak.

FairPlay sê die probleem met invoere is nie nuut nie en dat daar al sedert 2017 klagtes oor die Brasiliane se voedselveiligheidsprosedures is. Hy het die owerhede toe al gevra om stappe te doen, maar ʼn tydelike verbod is opgehef en Brasiliaanse hoenderstukke het die land weer in rekordgetalle binnegestroom.

Die organisasie sê talle lande het al stappe gedoen oor invoere uit Brasilië, maar dié land is steeds die grootste verskaffer van ingevoerde hoender aan Suid-Afrika.

Verlede jaar het Suid-Afrika ʼn rekordmaat van 348 000 ton pluimvee vanaf Brasilië ingevoer. In September vanjaar het dié syfer op 205 000 ton gestaan.

Die organisasie sê dit is tot 50% van alle hoenderinvoere na Suid-Afrika.

FairPlay sê heelwat van dié hoenderprodukte kon afkomstig gewees het van pluimveeprodusente wat met BRF SA verbind is.

“Ons behoort die voorbeeld van die Europese Unie te volg wat langer as ʼn jaar invoere van 20 Brasiliaanse vleisverspreiders verbied het. Die meeste hiervan was vir aanlegte wat BRF SA bedryf,” het die organisasie gesê.

“Die Brasiliaanse vervolgingsproses kan dalk ʼn wyle duur, maar die kommer oor voedselveiligheid in Suid-Afrika is veel dringender. FairPlay doen ʼn beroep op die regering om ʼn algehele verbod op alle hoenderinvoere uit Brasilië te plaas tot produsente daar aan ons veearts-inspekteurs kan bewys dat hulle vleis veilig is.

“Die gebruik van Suid-Afrikaanse invoerders om vleis uit verskillende lande saam te verpak sonder dat daar enige naspeurbaarheid is, beteken dit is onmoontlik om Brasiliaanse vleis in ons supermarkte te identifiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JJ ·

Wat van China en Indie se invoerprodukte wat ons tekstiel en nywerheid tot stilstand bring?

Jannie van Niekerk ·

Die regering behoort alle invoere van ALLE produkte wat in oppossisie met produkte wat reeds in Suid Afrika vervaardig word, te verbied. Die lande waarvan ingvoer word kom stort in elke geval net hulle minderwaardige gemors hier. Hulle persepsie is mos : “Dis Afrika hulle kan ons minderwaardige gemors gebruik hulle weet nie van beter nie.” Terwyl die plaaslike produsente finansieel al hoe swaarder kry, word werksgeleenthede al hoe minder. Produsenet in die landboubedryf kan baie meer werksgeleenthede skep as daar geen swak gehalte hoenders, melk en ander boerdery produkte ten duurste ingevoer word nie. En glo my vry, die ingevoerde landbou produkte is van baie swakker gehalte as die palaslike produkte…veral ‘n spesifieke langlewe melkproduk.

KaterinaKat ·

Watter een? Ons koop soms langlewe melk 6packs vir noodgevalle en ek wil daai soort vermy asb.

Fanie du Preez ·

Ek eet elke dag van my lewe Chickn Lickn …moenie invoere stop nie….ek eet nie blare en takke nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ander lande voer kos uit na Suid Afrika…….sodat mense dit kan opeet, en vir nog vra. Met die kos in hulle mae gaan werk hulle in die myne……..en voer ons land stukkie vir stukkie uit na die lande wat die kos produseer……….en koop die produkte wat met ons grondstowwe vervaardig is terug!! Dis so tragies dat Afrika nie hierdie situasie kan waarneem….en begin om na homself om te sien nie. Arme donker Afrika……….

Elize ·

Hoender vanaf brazil word ook privaat aan publiek verkoop, weet nie hoe hulle dit gaan stop nie.

Jannie van Niekerk ·

@Katerinakat. Ek mag ongelukkig nie die produk se naam op hiedie forum noem nie. Kyk net op die verpakkin. Jy sal die land van oorsprong se naam daarop sien en dan self jou besluit kan neem,

George in Bloem. ·

Die grootskaalse hoenderinvoere ten koste van werksgeleenthede op groot skaal hier in SA sal nooit ophou nie want daar is kaders tien teen een wat groot geld uit dit uit maak. As always just follow the money……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.