Verbod op fliekteaters ná 35 jaar in Saoedi-Arabië opgehef

‘n Fliekteater (Foto: Pixabay)

Saoedi-Arabiërs kon die afgelope naweek vir die eerste keer in 35 jaar ʼn rolprent in ʼn fliekteater kyk nadat ʼn dekades lange verbod op fliekteaters en kommersiële rolprente opgehef is.

Dié verbod is in die 1980’s ingestel nadat daar teenkanting was dat mans en vroue in openbare plekke van vermaak te veel met mekaar meng.

Honderde Saoedi-Arabiërs het na die stad Jeddah gestroom om twee fliekvertonings by te woon. The Emoji Movie – ʼn fliek wat maar 9% van kritici ontvang het – is eerste vertoon en gevolg deur Captain Underpaints: The First Epic Movie.

Volgens die nuuswebwerf Metro is teatergangers glo bederf met springmielies en koeldrank om die “egte ervaring” van ʼn fliek in ʼn rolprentteater aan hulle te bied.

Die besluit om die verbod op fliekteaters en kommersiële rolprente op te hef is glo geneem deur kroonprins Mohammed bin Salman (32) wat baie van die beperkings van die verlede ophef om die land se ekonomie ʼn hupstoot te gee en sy afhanklikheid van olie te verminder.

Salman het onder meer verlede jaar aangekondig dat vroue in dié land nou ʼn motor mag bestuur en ook toegang tot konserte en komedievertonings kry.

Volgens The Telegraph kan die eerste fliekteater in dié land moontlik reeds in Maart vanjaar sy deure oopmaak. Daar is glo planne om sowat 300 teaters teen 2030 oor die hele land op te rig wat op sy beurt sowat 30 000 werksgeleenthede sal skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hector Jooste ·

Julle berig maak nie heeltemal sin nie. Hoe lank was die Arabiere sonder filmteaters? Was dit 35 jaar of ‘n dekade (10 jaar)?

Cyril Blackburn ·

Dagsê Hector
Dankie vir jou kommentaar! Die frase moet inderdaad lees “dekades lange”. Ons vra om verskoning vir die oorsig – die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

Leonard ·

Die flieks sal niks langer as 60 minute wees nadat dit gesensor is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.