Verbod op TikTok in VSA afgeweer – vir eers

’n Hof in Washington DC het die beplande verbod op die aflaai van die Chinese app TikTok in die VSA Sondag tydelik ter syde gestel – dít enkele ure voordat dié verbod in werking sou tree.

’n Regter het Sondag ’n voorlopige bevel aan TikTok toegestaan teen die verbod wat die aflaai of enige bywerkings van dié app op Amerikaanse mobiele appwinkels vanaf Sondag ’n minuut voor middernag sou verban het.

Die verbod sou van Apple en Google vereis om die diens uit hul onderskeie appwinkels te verwyder sodat nuwe gebruikers dit nie kon aflaai nie.

Die Amerikaanse distriksregter Carl Nichols het egter ’n voorlopige bevel toegestaan ​​wat deur TikTok se eienaar, ByteDance, aangevra is om die app beskikbaar te hou in Amerikaanse appwinkels.

Nichols het egter in dié stadium geweier om ’n bevel toe te staan rakende ’n tweede stel beperkings wat op versoek van die Amerikaanse departement van handel op 12 November in werking tree. Dié beperkings sal enige Amerikaanse maatskappy verhoed om dienste aan TikTok te lewer wat waarskynlik die einde van TikTok in die VSA sal beteken.

Die departement van handel het intussen in ’n verklaring gesê hy sal die bevel nakom en het reeds die nodige stappe begin doen.

TikTok het om die beurt gesê hy is tevrede met die voorlopige bevel aangesien dit sy “voortgesette gesprek met die regering sal handhaaf om sy voorstel, wat die president verlede week goedgekeur het, in ’n ooreenkoms te omskep”.

Maroela Media het vroeër berig pres. Donald Trump het verlede maand ’n ooreenkoms tussen Oracle, TikTok en die Amerikaanse kettingreus Walmart goedgekeur wat waarskynlik beteken dat die Chinese kortvorm-video-app se bedrywighede in die VSA kan voortgaan.

Trump het gesê die konsep van die betrokke ooreenkoms dra sy goedkeuring weg aangesien dit verseker dat die data van die sowat 100 miljoen mense in die VSA wat van dié app gebruik maak, veilig is.

Die ooreenkoms moet egter voor 12 November beklink word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.