Verbod op YouTube in Turkye

youtube turkyeDie regering in Turkye het Donderdag ook YouTube in die land geblok nadat ʼn verbod op die sosialemedia-netwerk Twitter in dié land geplaas is.

Neelie Kroes, digitaleagenda-kommissaris vir die Europese Unie, het dié optrede as “desperaat en depressief” beskryf.

Die algemene verkiesing vind Sondag in Turkye plaas. Volgens die staatnuusagentskap Anadolu het die ministerie van buitelandse sake die beperking versoek weens ʼn “nasionale bedreiging van veiligheid”.

Eerste minister Recep Tayyip Erdogan, loods ʼn veldtog teen sosialemedia-netwerke wat in Turkye gebruik word om anti-regeringsbetogings te organiseer en korrupsiebewerings teen top regeringsbeamptes aan die lig te bring.

Die jongste klankgreep wat op sosiale media gedeel word, wat nie onafhanklik geverifieer kan word nie, voer aan dat die land se hoof van misdaadintelligensie en minister van buitelandse sake ʼn gesprek gehad het om militêr in Sirië in te gryp.

Gebruikers van YouTube in Turkye het Donderdag ʼn boodskap ontvang: “Toegang word geblok deur die telekommunikasie presidensie”.

Erdogan, wat in 2003 as premier aangewys is, het homself ook teen Facebook uitgespreek.

Sommige maatskappye het reeds gratis dienste aan Turkse gebruikers verskaf om hulle te help om die verbod te omseil. Na beraming is daar 40% minder tweets in Turks uitgestuur sedert die verbod ingestel is. Daar is ongeveer 10 miljoen Twitter-gebruikers in Turkye.

YouTube, wat nou deur Google besit word, is tot 2010 vir ongeveer twee jaar lank in Turkye geblokkeer. Tienduisende webwerwe word glo nog steeds in Turkye geblok weens politieke redes. Turkye het ook die hoogste aantal verslaggewers in gevangenis. -SAPA

Lees ook:
Regering blok Twitter in Turkye

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.