‘Verby teleurgesteld’ – Hollywood reageer op Weinstein-uitspraak

Harvey Weinstein (Argieffoto: Etienne Laurent/Pool/AFP)

Talle Hollywood-sterre het Donderdag hul skok en verontwaardiging uitgespreek ná Harvey Weinstein, die voormalige Hollywood-rolprentvervaardiger, se skuldigbevinding aan seksmisdade in New York tersyde gestel is.

Rosanna Arquette, Ashley Judd en Mira Sorvino is van die bekendes wat skerp gereageer het toe Weinstein se 2020-skuldigbevinding aan verkragting en seksuele aanranding Donderdag deur die stad se appèlhof omgekeer is.

Weinstein (72) sal nou ʼn nuwe verhoor in New York kry vir die saak waarin hy tot 23 jaar vir twee seksmisdade gevonnis is. Hy dien ook ʼn afsonderlike 16 jaar lange verkragtingsvonnis uit wat in Kalifornië teen hom opgelê is.

Die appèlhof het egter nou beslis dat ʼn kritieke fout begaan is deurdat aanklaers toegelaat is om getuienis in te dien van vroue wat aanvoer dat Weinstein hulle aangerand het, selfs al het hul bewerings nie deel van die aanklagte teen hom uitgemaak nie. Die regters het gesê dit het tot ʼn onregverdige verhoor gelei.

Weinstein se regspan het die bevinding as ʼn groot oorwinning verwelkom, maar die regsverteenwoordigers van slagoffers van seksuele geweld sien dit as ʼn reuse-terugslag.

Die saak en aanklagte teen Weinstein het die #MeToo-beweging in 2017 begin. Dit het destyds opnuut die kollig op seksuele misdrywe in die rolprentbedryf geplaas. Meer as 80 vroue het uiteindelik vir Weinstein van verskeie dade van seksuele aanranding en teistering beskuldig.

Hier is ’n paar bekendes se reaksies op die tersydestelling:

Ashley Judd, Mira Sorvino

Ashley Judd en Mira Sorvino is twee Hollywood-bekendes wat hulle misnoeë oor die wending die jongste wending in die Weinstein-hofsaak uitgespreek het. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

“Harvey is regmatig skuldig bevind. Dit is jammer dat die hof sy skuldigbevinding omgekeer het. As ʼn oorlewende is ek baie teleurgesteld.” – Rosanna Arquette, aktrise en Weinstein-aanklaer, aan The Hollywood Reporter.

“Dit is onregverdig teenoor oorlewendes. Ons leef in ons waarheid. Ons weet wat gebeur het.” – Ashley Judd, die eerste aktrise wat na vore gekom het met bewerings teen Weinstein, via Instagram.

“Afgryslik! Van wanneer af laat howe nie toe dat bewyse van patroon van vorige misdrywe toegelaat word nie? Hy is ʼn gewoontemisdadiger wat meer as 200 vroue verkrag/beseer het! Ek is gevul met afgryse vir die regstelsel wat meer ten gunste van misdadigers as slagoffers is.” – Mira Sorvino, Oscar-bekroonde aktrise en Weinstein-aanklaer, via sosialemediaplatform X (voorheen Twitter).

“Wakker geword met hierdie nuus. Dit voel vir my nou belangriker as ooit te vore om aan te hou om stilte oor seksjagters verbreek en om aan te hou om slagoffers te ondersteun as hulle hieroor praat.” – Katherine Kendall, aktrise en Weinstein-aanklaer, via Instagram.

“Dit is ʼn voortdurende mislukking van die regstelsel – en die howe – om oorlewendes ernstig op te neem en om ons belange te beskerm. [Manhattan-distriksprokureur Alvin] Bragg het in 2021 as kandidaat vir die amp gestaan omdat sy voorganger so baie van ons gefaal het. Ons verwag van hom om Weinstein nou aan die kaak te stel.” – Ambra Battilana Gutierrez, model en Weinstein-aanklaer, via X (voorheen Twitter).

“Laat dit ʼn herinnering wees van hoe bedrog in die Amerikaanse regstelsel teen vroue en oorlewendes van seksuele geweld plaasvind, en wat dit verg om jou waarheid in hierdie wêreld te ‘bewys’.” – Amber  Tamblyn, aktrise, via Instagram.

“Hulle sal nooit kan omkeer wie ons is nie. Seëninge aan almal wat hulle alles gegee het #gees #moed #eenheid.” – Rose McGowan, aktrise en Weinstein-aanklaer, via Instagram.

“[Dit] is ʼn duidelike herinnering dat die strafregstelsel nie ingestel is om werklike geregtigheid te dien nie en dat enigiemand wat aandring dat ‘Me Too verby is’ of ‘te ver gegaan het’ moet na die werklike toestand van die wêreld kyk.” – Sarah Ann Masse, aktrise en Weinstein-aanklaer, per e-pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.