Verdagte in Madeleine McCann-saak berugte pedofiel, moordenaar

Gerry en Kate McCann by ‘n foto wat elektronies saamgestel is van hoe Maddie moontlik nou lyk Foto: John Stillwell/PA Wire

Die man wat daarvan verdink word dat hy Madeleine McCann ontvoer het, is enkele maande voor haar verdwyning uit ʼn tronk in Portugal vrygelaat.

Christian Brückner (43) is in Desember 2006, net vyf maande voordat die driejarige Madeleine verdwyn het, vrygelaat nadat hy nege maande in die tronk deurgebring het vir die roof van ʼn vulstasie.

Mail Online berig die verdagte is destyds in hegtenis geneem toe hy ʼn vulstasie in die kusdorp Portimão verlaat, net 20 myl van die vakansie-oord waar Madeleine later verdwyn het.

Brückner is ʼn berugte pedofiel en dien tans nege jaar tronkstraf in ʼn tronk in Duitsland uit nadat hy in 2005 by ʼn luukse villa ingebreek en ʼn 72-jarige Amerikaanse vrou verkrag het.

Madeleine McCann.

Polisie dink nou dat Brückner moontlik verbind kan word met twee ander verdwynings van kinders in Portugal en Duitsland. Die eerste is die verdwyning van ʼn sesjarige Duitse seun 24 jaar gelede. René Hasse en sy ouers was op vakansie in Portugal toe hy op die strand verdwyn het. Sy ouers het later net sy klere gevind. Brückner, wat in daardie stadium 19 jaar oud was, het pas van Duitsland na Portugal verhuis en is toe reeds aan ses seksuele oortredings skuldig bevind.

Die polisie ondersoek nou ook opnuut die verdwyning van die agtjarige Inga Gehricke vyf jaar gelede. Dié meisie het op 2 Mei 2015 verdwyn tydens ʼn gesinsuitstappie in Duitsland naby aan die plek waar Brückner gewoon het.

Maroela Media het vroeër berig die McCann-ouerpaar, Kate en Gerry, het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling, destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelaat waar hulle gelê en slaap het. Die McCanns het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe ontdek dat Madeleine uit haar bed verdwyn het.

Intussen berig Herald Live dat die polisie aanneem Madeleine is dood. “Ons hanteer die saak nou as ʼn moontlike moord,” het die Duitse staatsaanklaer Hans Christian Wolters Donderdag gesê. Hy is die eerste persoon om só ʼn definitiewe oordeel oor die saak te fel, aangesien Madeleine se familie en vriende nog altyd die hoop uitgespreek het dat sy lewend gevind sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Hekwag ·

Indien dit wel hy is en skuldig daaraan bevind word, stel ek voor dat hy summier deur ‘n vuurpeloton terreggestel word. Hy’t reeds té veel skade in die samelewing aangerig EN boonop geswyg oor Madeleine.

Alma ·

Hoe kon hy nog vry rondgeloop het, terwyl hy al aan 6 seksuele oortredings skuldig bevind was! My hart word nog steeds seer as ek na die pragtige dogtertjie kyk. Dis so hartseer!

JohanR ·

Maar net weer ‘n bewys dat jy nie vir een oomblik jou oe van jou kind, of kinders kan afvat nie. Altyd iemand wat ‘n kind soek vir iets donker soos moeiti, of self bevrediging, of ontvoering. Kyk maar vir die dogtertjie by die Dros. Dit het in ‘n oogwink gebeure!

Cherokee ·

Sarel en Carina, waar lees julle dat daar gesloer was met die saak? Of is dit duimsuig?

Estelle ·

Daar is 13 jaar gesloer met hierdie saak omdat die Polisie aanvanklik die ouers beskuldig/verdink het. En baie tyd so verlore gegaan het. Ons hoef dit nie nou te lees nie, ek volg hierdie saak al jare!!!!

Niklaas ·

As Brückner die skuldige is, sal daai arme McCann ouers hopelik afsluiting kan kry met die onthulling wat van haar liggaam geword het. Dis vir hulle baie belangrik om antwoord op daai raaisel te kry. Laat ons hoop die ware feite word binnekort bekend gemaak. Dit laat ons in SA weer dink aan die destydse Gert Van Rooyen saak en die paar verdwene jong meisies.

Amatambo ·

Dit was een van die ergste ontvoering gevalle van destyds – maar as ek reg onthou, het een van hulle slagoffers ontsnap (kan nie veel meer onthou nie) en het sy die hele vieslike storie as gevolg daarvan oopgevlek. Later is die hele erf in Malherbestraat, Pretoria, glo omgeploeg om dalk van die ander meisies se oorskot daar te kry, maar daar was toe niks nie… Ai – die satan loop los in die wêreld en doen net wat hy wil….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.