‘Verdagte man’ buite Withuis geskiet

Die Withuis. Foto: Facebook

Die Amerikaanse geheime diens het Maandagmiddag ʼn verdagte man, wat gelyk het of hy gewapen was, buite die Withuis in Washington raakgeskiet en gewond.

Fox News berig die Amerikaanse president, Donald Trump, is die middag ’n paar minute nadat hy die podium vir ’n Covid-19-media-inligtingsessie bestyg het, skielik deur ʼn lyfwag van die geheime diens uit die lokaal gelei.

Hy het ʼn ruk daarna na die lokaal teruggekeer en die verslaggewers verwittig dat daar ’n skietery buite die Withuis was. “’n Verdagte man is klaarblyklik gewond. Die man is na die hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Die situasie is onder beheer,” het Trump aan die verslaggewers gesê.

Trump het verder aan die verslaggewers gesê niemand anders is tydens die skietgeveg gewond nie.

Luidens ʼn CNN-berig het die geheime diens Maandag laatmiddag in ʼn verklaring op Twitter meer inligting oor die skietery bekendgemaak. Volgens die verklaring het ʼn 51-jarige man na bewering ʼn agent van die geheime diens op die hoek van 17de Straat en Pennsylvanialaan voor die Withuis genader. Die man het glo aan die agent gesê hy is gewapen.

“Hy het in die rigting van die agent gehardloop en dit het gelyk asof hy ʼn voorwerp uit sy klere wou pluk. Hy het toe ʼn hurkende posisie ingeneem en dit het gelyk asof hy ʼn skoot gaan afvuur. Op daardie stadium het die agent sy wapen afgevuur en die man in die bolyf getref,” lui die verklaring.

CNN berig twee polisiebeamptes het bevestig dat die verdagte persoon nie ʼn wapen in sy besit gehad het nie. Die man is ook nie ernstig beseer nie.

Die geheime diens en Washington-metropolisie het Maandagaand tydens ʼn mediakonferensie gesê die polisie ondersoek tans die skietery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Blikkies ·

CNN………..hulle verslaggewing moet maar met ‘n knippie sout gevat word. Ons sal wel later hoor wat die waarheid was.

Hans ·

Ek reken die VSA is seker een van die lande met die meeste mal mense op straat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.