Verdagte vas dekade ná onopgeloste moorde

Saad al-Hilli, sy vrou en sy skoonma is in 2012 in Frankryk vermoor. (Foto: AFP)

Die Franse polisie het Woensdag ʼn verdagte in hegtenis geneem in verband met die berugte en onopgeloste moord op lede van ʼn Britse familie en ʼn verbygaande fietsryer in ʼn afgeleë streek in die Alpe in Frankryk.

Dié verwikkeling volg byna ʼn dekade ná die moord op drie lede van die Al-Hilli-gesin, van Irakse-afkoms, en die fietsryer Sylvain Mollier. Hulle is op 5 September 2012 vermoor.

Aanklaers sê die verdagte is in Chambéry, ʼn Alpe-dorp in die suidooste van Frankryk, in hegtenis geneem. Die inhegtenisneming sal ondersoekers nou in staat stel om deursoekings uit te voer en die verdagte se bewegings rondom die tyd van die moorde na te gaan.

Saad al-Hilli, ʼn 50-jarige Britse toeris, is destyds saam met sy vrou, Iqbal (47), en haar 74-jarige ma in ʼn parkeerterrein in die omgewing van Chevaline naby die Annecy-meer doodgeskiet.

Die 45-jarige Mollier is doodgeskiet nadat hy glo op die toneel afgekom het. Die egpaar se twee jong dogters het die aanval oorleef.

BBC berig die egpaar se jongste dogter Zeena, toe vier jaar oud, is destyds aangetref waar sy onder haar ma se liggaam in die gesinsmotor weggekruip het. Haar sussie Zainab, toe sewe jaar oud, is met ernstige kopbeserings aangetref nadat sy geskiet en geslaan is.

Die sussies het sedertdien nuwe identiteite gekry en is in 2020 weer ondervra in ʼn poging om vordering met die saak te probeer maak.

ʼn Aantal mense is oor die jare in verband met die moorde in hegtenis geneem, maar geen klag is ooit aanhangig gemaak nie.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.