Verdagte vas ná vyf in pyl-en-boog-aanval sterf

Polisielede op een van die tonele in Kongsberg waar ‘n man gewapen met ‘n pyl-en-boog vyf mense doodgeskiet het. (Foto: Torstein Bøe/NTB/AFP)

Vyf mense is Woensdag in die suidooste van Noorweë dood en twee ander gewond toe ʼn man, gewapen met ʼn pyl en boog, hulle geskiet het.

Die verdagte is reeds in hegtenis geneem.

Die motief vir die aanval, wat op verskillende plekke in die Kongsberg-middedorp plaasgevind het, is steeds onduidelik. Volgens die polisie word die moontlikheid dat dit ʼn terreuraanval was egter nie uitgesluit nie.

Oyvind Aas, ʼn polisiebeampte, het bevestig dat vyf mense dood is. Die twee gewonde slagoffers is in ʼn intensiewesorgeenheid in ʼn hospitaal, maar het nie lewensbedreigende beserings opgedoen nie.

Een van die slagoffers is ʼn polisiebeampte wat in ʼn winkel was waar die aanvaller toegeslaan het.

“Die polisie het die man wat die daad gepleeg het, in hegtenis geneem en volgens ons inligting is hy die enigste persoon betrokke,” het Aas gesê.

Hy sê gegewe die verloop van gebeure, is dit natuurlik om te oorweeg of dit ʼn terreuraanval was en alle moontlikhede word ondersoek.

Die polisie het die verdagte as ʼn 37-jarige Deense burger wat in Kongsberg woon, geïdentifiseer. Dit nadat daar vroeër berigte was dat die aanvaller ʼn Noorweër is.

“Ons het besluit om die inligting te bevestig omdat daar baie gerugte op sosialemedianetwerke oor die oortreder is. Sommige daarvan betrek mense wat geen verband met hierdie ernstige dade het nie,” het die polisie gisteraand in ʼn verklaring gesê.

Vlug vir hul lewe

ʼn Ooggetuie het aan TV2 gesê sy het ʼn rumoer gehoor en daarna gesien hoe ʼn vrou skielik skuiling soek terwyl ʼn “man in die hoek met pyle in ʼn koker oor sy skouer en ʼn boog in sy hand staan”.

“Daarna het ek mense vir hul lewe sien vlug. Een van hulle was ʼn vrou met ʼn kind aan die hand,” het sy vertel.

Die verdagte is na ʼn polisiestasie in die nabygeleë Drammen geneem.

Die polisie is om 18:13 oor die voorval in die dorp met sy 25 000 inwoners ingelig en die verdagte was om 18:47 reeds in hegtenis geneem. Kongsberg is sowat 80 km wes van die hoofstad Oslo geleë.

“Die gebeure ruk ons,” het Erna Solberg, Noorweegse eerste minister, op haar laaste dag in die amp gesê.

Sy gee vandag die leisels oor aan Jonas Gahr Store, wie se Arbeidersparty die parlementêre verkiesing gewen het.

Televisiebeeldmateriaal wys hoe die polisie die toneel van die aanval afgesper het, terwyl mense gevra is om in hul huise te bly.

Polisielede in dié Skandinawiese land is nie gewoonlik gewapen nie, maar na die aanval het die nasionale polisiedirektoraat opdrag gegee dat polisiebeamptes landwyd gewapen moet wees.

Die Noorweegse intelligensiediens, PST, is ook op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas, het Martin Bernsen, ʼn woordvoerder, gesê.

“Dit is alles in hierdie stadium net bespiegeling,” het Bernsen geantwoord op ʼn vraag oor die moontlikheid of dit ʼn terreuraanval was.

Pyl in muur

Die webwerf van die openbare uitsaaier NRK het ʼn foto geplaas van ʼn swart pyl wat in ʼn muur vasgeskiet is. In ander foto’s kan gesien word hoe pyle van ʼn hoë gehalte op die grond lê.

Die vlak van geweld in Noorweë is laag, hoewel die verregse ekstremis Anders Behring Breivik altesame 77 mense tien jaar gelede in die land se eerste slagting sedert die Tweede Wêreldoorlog vermoor het.

Breivik het eers ʼn bom in Oslo laat ontplof in ʼn gebou reg langs die kantoor van die eerste minister en het daarna by ʼn somerkamp vir jongmense op die eiland Utoya met ʼn wapen losgebrand.

In nog ʼn regse aanval het die selfverklaarde neo-Nazi Philip Manshaus in Augustus 2019 in ʼn moskee aan die buitewyke van Oslo losgebrand voor aanbidders hom oorrompel het. Niemand is ernstig beseer nie.

Hy het vroeër ook sy stiefsuster, wat uit China aangeneem is, doodgeskiet in wat aanklaers ʼn “rassistiese daad” genoem het.

Verskeie beoogde djihadiste-aanvalle is deur veiligheidsmagte gefnuik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Belinda ·

Pyl en boog… hoe vreemd om te hoor dat iemand mense met dit aanval, het hy nog nooit van n geweer gehoor nie?
Seker maar omdat ons gewoond is dat mense gewoonlik gemoor word met vuurwapens en messe.
Dis baie vreemd.

Cherokee ·

Jy’s reg Belinda, en ek hoop nie die Xhosa koerante publiseer dit ook nie, want dan sal cele pyl en boë ook verbied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.