Verhaal van drawwer en weggooihondjie in fliek, boek omskep

Gobi saam met Dion Leonard (Foto: ANA)

ʼn Weggooihondjie van Xinjiang in China verower duisende harte wêreldwyd nadat dié hondjie verlede jaar tydens ʼn ultra-maraton van meer as 100 km oor China se mees onherbergsame Xinjiang-distrik ʼn drawwer aangeneem en saam met hom die maraton voltooi het.

Dion Leonard, ʼn beroepsatleet, vertel dié hondjie – wat hy intussen Gobi genoem het – het verlede jaar tydens een van die grootste maratons van die jaar in hitte van meer as 38 °C heeltyd by hom gehou, en sommer dadelik in sy hart gekruip.

Leonard, ʼn Australiër wat in Skotland woon, het eindelik ʼn tweede plek in dié maraton behaal met Gobi in sy arms.

Dié paar se storie is só hartroerend dat ʼn boek, getiteld Finding Gobi, reeds oor hulle uitgereik is, en hul storie se filmregte pas aan Century Fox verkoop is.

Ná die maraton was Leonard genoop om terug te keer Skotland toe. Hier wou hy die fynere besonderhede uitpluis oor hoe hy te werk kan gaan om Gobi aan te neem, terwyl dié hondjie vir ʼn ruk lank by iemand gewoon het wat hy tydens die maraton ontmoet het.

Teen die tyd dat hy al die papierwerk uitsorteer het, was Gobi egter skoonveld.

Leonard het ʼn skarefinansieringsprojek van stapel gestuur, en meer as ʼn halfmiljoen rand is uiteindelik ingesamel om na Gobi te help soek.

Die kranige drawwer het einde verlede jaar weer na China vertrek, en het ná ʼn soektog van sowat twee weke lank sy hondjie opgespoor. Gobi het ʼn heup gebreek en ʼn diep sny op sy voorkop gehad.

Ná Gobi gesond geword het, het Leonard sowat drie maande in Beijing deurgebring terwyl Gobi in kwarantyn gehou is voor die drawwer eindelik saam met dié woef na Skotland kon terugkeer.

Vandag is Leonard en sy vrou, wat al 10 jaar getroud is, ʼn gelukkige “gesinnetjie” saam met Gobi en hul aanneemkat. “Dit was definitief die noodlot wat ons bymekaar gebring het, en ek is so bly sy het my gekies. Sy het baie vreugde vir mense reg oor die wêreld gebring met haar storie,” vertel hy.

Leonard het ʼn groot gedeelte van die geld wat hy met die boek verdien het aan die Little Adoption Shop, ʼn organisasie wat hulle vir dierebeskerming in Beijing beywer, geskenk.

Gobi saam met Dion Leonard (Foto: ANA)

Gobi saam met Dion Leonard (Foto: ANA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johanna ·

N besonderse en pragtige verhaal. gaan die boek koop en die beslis nie die film misloop nie!

Willie ·

Wat n mooi storie, wat sommer trane in mens se oe bring… Die hondekinders is darem maar die mens se beste vriend… So uiters verbind tot die eienaar

Lee ·

Dis nou ‘n oulike gelukkige einde storie. So bly hy het Gobi gekry xx

Thea ·

Wat n mooi storie waar sal ek die boek kry??
Dankie tog dat daar nog mense is wat so lief is vir diere!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Maroela, kan julle asb vir ons se waar ons die boek kan koop?

Carol ·

Ek sien mens kan die boek bestel by Takealot. Ek is seker dit sal ook by Exclusive Books of Kalahari wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.