Verhoor oor Frankryk-terreuraanvalle begin

Die verhoor oor die terreuraanvalle wat Frankryk in November 2015 geruk het, het Woensdag in Parys begin. (Foto: Alain Jocard / AFP)

Die verhoor oor die terreuraanvalle wat Frankryk in November 2015 geruk het, het Woensdag in Parys begin.

Dit is die grootste verhoor in die land se moderne geskiedenis en sal na verwagting nege maande duur. ʼn Spesiale fasiliteit is spesifiek vir dié verhoor opgerig, waarin die sake van 20 verdagtes wat van die aanvalle aangekla is, aangehoor sal word.

Die gebied om die hof was Woensdag afgesper en daar was ʼn groot polisieteenwoordigheid buite die gebou.

Die aanvang van die verhoor kom ʼn dag nadat die verhoor van die beweerde baasbrein agter die 9/11-aanvalle in die VSA hervat is. Dié verhoor is egter tot Woensdag (vandag) uitgestel.

Maroela Media het destyds berig dat ʼn reeks selfmoordbom- en vuurwapenaanvalle op kroeë, restaurante en die Bataclan-konsertsaal, waar ʼn Amerikaanse rockgroep opgetree het, in Parys geloods is.

Die IS het kort ná die aanvalle in ʼn video aanspreeklikheid daarvoor aanvaar.

Die enigste oorlewende aanvaller, Salah Abdeslam (31), sal nou saam met 13 ander verdagtes in die beskuldigdebank verskyn terwyl die sake van ses ander beskuldigdes in hul afwesigheid aangehoor sal word. Vyf van die afwesige verdagtes is vermoedelik dood, hoofsaaklik in lugaanvalle in Sirië.

Die beweerde koördineerder van die aanvalle, Abdelhamid Abaaoud, is vyf dae ná die aanvalle deur Franse polisiebeamptes noordoos van die hoofstad doodgeskiet.

Twaalf van die 20 verdagtes kan lewenslange tronkstraf opgelê word indien hulle skuldig bevind word.

Arthur Denouveaux, ʼn oorlewende en president van die Life for Paris-vereniging, sê “onbekende terrein word nou betree”.

“Ons is gretig dat die verhoor begin, maar wonder hoe dit oor die volgende nege maande gaan afspeel.”

Minstens 330 prokureurs is by die verhoor betrokke, terwyl sowat 300 slagoffers na verwagting sal getuig. Frankryk se voormalige president, Francois Hollande, sal ook getuig.

Hollande het aan internasionale media gesê die tyd sal leer of Abdeslam wel iets tydens sy geskeduleerde getuienisbeurt gaan sê.

Abdeslam het die afgelope jare geweier om sy samewerking aan die Franse regering te gee en ook grotendeels geswyg tydens ʼn afsonderlike verhoor in België in 2018.

Abdeslam, ʼn Belgiese burger, is vier maande ná die aanvalle by sy wegkruipplek in Brussel – naby sy ouerhuis – in hegtenis geneem. Hy het van die toneel gevlug en sy selfmoordbelt met plofstof agtergelaat. Speurders het later vasgestel dat die belt foutief was.

“Hy moet met slagoffers praat. Indien hy dit nie doen nie, is hy nog ʼn groter lafaard as wat ons vandag aanneem,” sê Hollande.

Philippe Duperron, wie se 30-jarige seun by die Bataclan-konsertsaal dood is, sê hy hoop die verhoor sal ʼn stem aan die oorledenes gee.

Gerald Darmanin, Frankryk se minister van binnelandse sake, sê die terreurbedreiging in die land is hoog, veral tydens verhore oor terreuraanvalle.

“ʼn Duisend polisiebeamptes sal ontplooi word om veiligheid te verseker.”

9/11-verhoor uitgestel

Intussen is die verhoor van Khalid Sheikh Mohammed, die vermeende baasbrein agter die 9/11-terreuraanvalle in New York, en sy vier medebeskuldigdes Dinsdag uitgestel.

Die verhoor is enkele dae voor die twintigste herdenking van dié aanvalle by die Amerikaanse vlootbasis in Guantánamobaai in Kuba hervat.

Die verhoor is egter ná twee en ʼn half ure uitgestel, onder meer weens tegniese probleme wat uit die aanstelling van die nuwe regter, kol. Matthew McCall, gespruit het. McCall is die agtste regter wat die saak behartig.

Die uitstel blyk van korte duur te wees en die verhoor sal na verwagting later vandag voortgaan.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tipper ·

Waarom nou so lank en uitgerek,om maar net tronk toe te gaan.

Misky ·

Weet nie of ek nie mooi lees nie, maar net een oorlewende aanvaller oor, 13 verdagtes en dan ander in afwesigheid verhoor word waarvan 5 reeds dood is. Meer as 330 prokureurs vir 300 slagoffers. Nege maande klink darem baie lank

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.