Verloofde van bekende skrywer skuldig aan moord

Helen Bailey en Ian Stewart. Foto: Alice Boagey via Facebook.

Helen Bailey en Ian Stewart. Foto:
Alice Boagey via Facebook.

Die verloofde van ʼn bekende Britse skrywer is Woensdag in die St. Albans Crown-hof in Brittanje skuldig bevind aan haar moord.

Ian Stewart (56) het Helen Bailey (51) vir weke lank bedwelm en later verwurg. Hy het haar liggaam saam met die liggaam van haar hond, Boris, in ʼn afvalput in hul erf gestort. Om dit weg te steek het hy ʼn motor bo-oor die put getrek.

Bailey, skrywer van die bekende Electra Brown-tienerreeks, was vir drie maande vermis voordat haar liggaam in Julie 2016 in Royston, Hertfordshire, gevind is.

Stewart het voorgegee of hy ook na haar soek toe sy vermis geraak het en het selfs boodskappe na haar foon, wat in sy besit was, gestuur. Stewart is skuldig bevind aan moord, bedrog, die voorkoming van ʼn wettige en menslike begrafnis en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg.

Dit is onbekend wanneer die vonnisoplegging sal plaasvind.

Tydens die hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat Bailey in die weke voor haar dood baie lomerig gevoel het en gevolglik op die internet vir moontlike oorsake gesoek het. Toetse het aangedui dat Stewart vir Bailey Zopiclone, ʼn slaapmiddel, in toenemende hoeveelhede ingegee het voordat hy haar later verwurg het.

Stewart het aan die hof gesê Bailey het vir hom ʼn brief gelaat waarin sy aangedui het sy het tyd op haar eie nodig. Hy het egter later erken hy het nie die waarheid gepraat nie.

Die polisie het intussen bekendgemaak dat hulle ondersoek gaan instel na die dood van Stewart se eerste vrou, Diane.

Jerome Kent, ʼn speurder, het aan verslaggewers buite die hof gesê hulle gaan probeer vasstel of daar enige ooreenkomste is tussen Helen en Diane se dood. “Daar is nie ʼn moord-ondersoek aan die gang nie, wel ʼn ondersoek na die skielike en onverwagse dood van Diane,” het Kent gesê.

Diane is skielik in 2010 dood waarna Stewart vir Bailey, ʼn weduwee, ontmoet het. Haar eerste man het verdrink in Barbados.

Kent het gesê Stewart het Bailey vermoor oor haar rykdom danksy haar topverkoperboeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jane ·

En gedink hy gaan daarmee wegkom? POS HOM. Sluit hom toe en gooi die sleutel weg, waar in jou lewe kan jy net iemand wat jy veronderstel is om lief te he net trompop te vermoor en dit vir geld? Kyk maar hoeveel kry jy in die tronk elke maand .. hoop jy sien nooit weer die lig daarbuite nie. Dit is ‘n skande dat sogenaamde ‘opgevoede geskoolde’ mense sulke vieslike dade pleeg. Geen verskoning nie. Gaan dien jou tyd uit!

Jem ·

Net weer n bewys karma bestaan wel. Elkeen sal sy dag kry. N vark kry hom vir die res van sy lewe sowel as in die hiernamaals.

Jan Nel ·

Ek verstaan nie die berig gekoppel aan die opskrif nie. Die opskrif sê hy is gevonnis, die berig sê dit is onseker wanneer vonnisoplegging gaan wees?

Janie Monsieur ·

Dagsê Jan Nel,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die opskrif van die berig is gewysig om enige onsekerhede uit die weg te ruim.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Tina ·

Dis net skokkend wat kan mens meer sê hoe kry n mens dit reg om n lewe te neem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.